STILBAAI NUUS - Die reuse brandstofprysverhogings het skokgolwe deur die wêreld gestuur, maar Suid-Afrikaners laat hulle nie sommer onderkry nie.
Hulle het die hou op die ken gevat, opgestaan, hulle motors gepak en koers gekies Stilbaai toe.
Na 'n stil begin van die skoolvakansie het Vrydag 'n heel ander prentjie geskets en die strate het gewemel van motors met vreemde registrasienommers. Selfs die triestige weer kon nie die naweekgangers se geesdrif demp nie.
Teen laat Vrydagmiddag was daar byna geen parkeerplek by die hawe beskikbaar nie, terwyl oud en jonk hul geluk met 'n visstok op die hawemuur beproef het.
Stilbaai se bekoring lê nie net in sy pragtige natuurskoon en veilige omgewing nie, maar ook in die verskeidenheid aktiwiteite wat gedurende die Paasnaweek aangebied word.
Op Saterdag, 4 April, wag daar onder meer die gewilde parkrun, bergfietswedrenne, 'n Amazing Race vir avontuursoekers en 'n Paasmark in Jongensfontein. Die Stilbaai Brugmark bied ook hul eerste aandmark aan, met nog talle ander doendinge in en om die dorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’