STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Skryfkring het Woensdag 27 September 'n heerlike voorleesmiddag in Die Waenhuis by Jagersbosch aangebied.
Sestig gesoute skrywers en aspirant-skrywers het bymekaar gekom om lekker saam te kuier en te luister hoe 12 skrywers van hulle werke voorlees.
Esther Scheffer, voorsitter van die skryfkring, vertel dat ene Rika Louw hier in Stilbaai afgetree het en sommer dadelik 'n klompie mense bymekaar gekry het om die skryfkring te vorm - en 39 jaar later gaan die skryfkring steeds van krag tot krag.
Daar is tans 17 lede wat wissel in ouderdom met die jongste wat 17 is. Sy het aangesluit toe sy maar net 11 jaar oud was. Hulle is 'n mengelmoes van Afrikaans en Engels, dames en mans, wat een maal per maand by die Stilbaai-biblioteek vergader.
Marianne Collen het afgeskop met Die Doekpoeding, waarna Colleen Cerutti Stilbaai in December voorgelees het.
Dit handel oor die duisende vakansiegangers wat jaarliks in Desember op Stilbaai toesak.
Karen Loots het met haar Boere Chipotle die gehoor laat skaterlag en net gewys hoe gevaarlik tuisgemaakte konkoksies kan wees. Nostalgia was die tema van Pat van Zyl.
Met Die Deur Gaan Oop het Koosie Delport die belangrikheid van 'n berader wat sy sout werd is beklemtoon. Jy kan maklik met 'n groot Deense hond opeindig as jy soek na 'n maat.
Ann Hiemstra het met Ek skryf vandag eksamen en Bokmakierie onder andere vertel van die brief aan haar pa, hy wat haar so oneindig ondersteun het as kind. Ann is reeds 15 jaar lid van die skryfkring.
'n Gesoute rubriekskrywer, Tienie Holtzhausen, het met Toebroodjies vertel van die keer wat haar vriendinne op 'n gholftoer by haar oorgebly het en na baie landgoedwyn al die toebroodjies vir 'n funksie die volgende dag verorber het. Tienie lewer gereeld rubrieke vir Die Burger.
My grandmother's mirror deur Belinda Gordon ontbloot die harde feit dat as jy die dag oud is sien jy jou ouma in die spieël en dan wonder sy of die jongklomp dit besef.
Hella Döckel, vorige voorsitter van die skryfkring, is al vir 20 jaar lid van die skryfkring en met Kokkedoor in die hospitaallaai probeer sy verduidelik hoe moeilik dit is om jou man te leer kook al het jy die beste kookboeke.
Nature's Law is deur Bonnita Davidtsz voorgelees en dit handel oor die uitroei van rooipitjie, 'n indringer uit Australië, en fynbos se voortbestaan in hierdie geveg.
Ter afsluiting het Esther Scheffer Stilbaai 'n Toekomsvisie voorgelees en dit handel oor hoe Stilbaai in 'n bestek van 20 jaar van 'n klein vissersdorpie gegroei het tot 'n groot stad met 'n moderne lughawe en groot inkopiesentrums. Nogal ontstellend as mens so daaraan dink.
Die middag is afgesluit met koek en tee en sommer net lekker lag en gesels.
Die skryfkring is nogmaals 'n bewys dat al wat 'n Stilbaaier aan vat 'n sukses is.
Die voorlesers is, van links: Marianne Collen, Colleen Cerutti, Karen Loots, Pat van Zyl, Koosie Delport, Ann Hiemstra, Tienie Holtzhausen, Belinda Gordon, Hella Döckel (agter), Bonnita Davidtsz en Esther Scheffer (voorsitter).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’