STILBAAI NUUS - Die dorp bied op op Saterdag 22 September vir die tweede agtereenvolgende jaar die Harcourts Hessequa Heritage Fees aan.
Dié unieke fees sal weereens uit twee trail runs bestaan wat by die Stilbaai Toerisme-terrein eindig waar die brood- en beskuitfees dan reeds in volle gang sal wees.
Deelnemers aan die 16 km-ren van Jongensfontein tot by die toerismeburo, asook die korter 5 km-ren wat by Skulpiesbaai begin, registreer Saterdagoggend by die Stilbaai-gemeenskapsaal vir die twee afstande waar hul voertuie veilig parkeer kan word.
Daarvandaan vervoer bussies hulle na die onderskeie vertrekpunte. Die 16 km-roete begin by die getypoel in Jongensfontein en neem deelnemers kuslangs tussen dié twee dorpies tot by die eindpunt, terwyl die 5 km-ren by Skulpiesbaai begin en dieselfde roete tot by die einde volg.
Die roetes neem deelnemers oor mooi staproetes en verby verskeie geskiedkundige en interessante besienswaardighede soos die antieke visvywers by Skulpiesbaai en die Wesstrand; van die eerste vakansiehuisies en die museum by Jongensfontein, terwyl die Palinggatopstal by die eindpunt ook deel van Stilbaai se geskiedenis uitmaak.
Die eerste 250 deelnemers by die einde, sal 'n unieke aandenking ontvang om hulle aan dié besonderse geleentheid te herinner. Stalletjies met heerlike kos, brood en beskuit, asook ander snuisterye sal verkoop word terwyl belangstellendes die mak varswaterpalings om 11:00 kan voer.
Beskuitbaksters en bakkers word genooi om aan die beskuitkompetisie deel te neem waar pryse vir die lekkerste beskuit gewen kan word.
Pryse sluit in 'n naweek vir twee by Strandveld Wyne naby Bredasdorp met 'n Putstop-brandstofbewys en komplimentêre wynproe; 'n veldrit vir twee volwassenes en twee kinders by die Garden Route Game Lodge buite Albertinia; 'n middagete by Jan Harmsgat se wynplaas buite Swellendam en geskenkpakke van Eureka Mills.
'n Lewendige orkes sal vir die musiek sorg terwyl heelwat aktiwiteite vir die kinders aangebied word. Kontak Johannie Vermeulen vir stalletjiebesprekings en inskrywings vir die beskuitkompetisie by 083 333 1810. Aanlyninskrywings vir die pretdraf kan reeds by www.mystilbaai.co.za gemaak word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'