STILBAAI NUUS - Die aankoop van die plase Schoongeleë en Soetbattersvlakte tussen die N2 en Stilbaai deur die departement van grondhervorming en landelike Ontwikkeling het die gemeenskap in rep en roer.
Stilbaai-besigheidsforum het in 'n skrywe aan besigheidseienaars en -bestuurders, asook die gemeenskap 'n versoek gerig dat hulle kalm moet bly, nie op onvolledige of emosionele inligting reageer nie en vertroue moet hê in die gestruktureerde proses wat gevolg word.
Georganiseerde gemeenskapsorganisasies, insluitend die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Goukou-plaaswag, Stilbaai-gemeenskapsforum (SGF), Riversdal-sakekamer en die Stilbaai-besigheidsforum (SBF), werk saam en in belyning aan hierdie aangeleentheid.
Die proses word doelbewus op 'n gestruktureerde en verantwoordelike wyse hanteer, met 'n duidelike fokus op veiligheid en sekuriteit.
Daar is reeds betekenisvolle betrokkenheid en terugvoering vanaf Hessequa-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van landbou ontvang.
Terugvoering tot op hede dui daarop dat die munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van landbou aangedui het dat die voorgestelde gebruik van die grond, soos tans oorweeg deur die nasionale departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling, nie in die huidige vorm as geskik beskou word nie.
Die Besigheidsforum sê verder dat hulle nie teen ontwikkeling of grondhervorming gekant is nie, maar dat daar 'n duidelike behoefte is aan verantwoordelike beplanning, kapasiteit en koördinering.
Verdere opdaterings sal op 'n gekoördineerde en verantwoordelike wyse gedeel word.
Intussen het die Hessequa-munisipaliteit 'n spesiale raadsvergadering vir 09:00 op Vrydag, 17 April geskeduleer, waar die aangeleentheid verder oorweeg sal word.
Skakel na hierdie virtuele vergadering hier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’