Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Vier Stilbaai-besighede is tydens 'n regstreekse virtuele toekenningsgeleentheid op Vrydag, 12 November met gesogte AHi-eerbewyse vir dinamiese sakelui beloon.
Stilbaai-sakekamer, Allegaartjie, Car Care Clinic Stilbaai en Basil & Biltong het die toekennings in hul onderskeie katogorie verower.
Die AHi Wes-Kaap se uitvoerende direkteur, dr Willie Cilliers het Stilbaai-sakekamer, wat in 2019 as die AHi Sakekamer van die Jaar aangewys is, vanjaar wéér as die wenner in hierdie kategorie aangewys.
"Dit is inderdaad 'n toekenning om op trots te wees," sê Cilliers. "Talle sakekamers het vir dié gesogte sakelui-eerbewys ingeskryf, maar Stilbaai-sakekamer en sy besighede het ondanks die Covid-19-pandemie en al die gepaardgaande uitdagings tog kreatiewe maniere gevind om met hulle kliënte of lede te kommunikeer. Die AHi-eerbewyse is dikwels die grootste erkenning wat sulke kleinsake-eienaars ontvang."
VIDEO: Stilbaai-besighede skitter met AHi toekennings
Martelize Brink, RSG-omroeper het tydens die prysuitdeling vir Allegaartjie as die wenner van die AHi se mees innoverende gasvryheidsbesigheid van die jaar aangewys. Sterrehemel Café & Restobar en Coffee & Cream was onder die finaliste in die AHi se mees innoverende gasvryheidsbesigheid van die jaar.
Basil & Biltong van Stilbaai is ook deur Brink as die AHi beginner klein besigheid van die jaar aangewys, terwyl Car Care Clinic Stilbaai as die AHi klein besigheid van die jaar aangewys is.
Suid-Kaap Forum wens hierdie wenners, maar ook die finaliste hartlik geluk met die prestasie en dat hulle ander besighede in die streek hiermee sal inspireer.
VERWANTE ARTIKEL: Stilbaai-besighede skitter as AHi-finaliste in kompetisie
Die AHi (vroeër bekend as die Afrikaanse Handelsinstituut) Wes-Kaap het tydens die prysuitdelingsfunksie die wenners van 'n kortlys met drie finaliste elk in ses kategorieë bekend gemaak. Die ander kategorieë is klein boer van die jaar, asook 'n spesiale direksie toekenning.
Cilliers sê dat meer as 2 000 mense vir hul gunsteling-finalis in die eerbewys-kompetisie gestem het. Japie Gouws, voormalige besturende direkteur van die ATKV, het wel beklemtoon dat die beoordelingspaneel 50% van die stemme uitgemaak het, terwyl die publiek die ander 50% uitgemaak het.
Alan Winde, die Wes-Kaapse premier het gedurende die jaarvergadering die eerbewyswenners geprys vir die vindingryke maniere waarop hulle uitdagings aangepak het deur uit die boks te dink.
Behalwe vir die toekennings van die spesiale eerbewyse, het Hein Boshoff, digitale spesialis van die AHi, ook hul splinternuwe digitale platform, www.myahi.co.za aan die publiek bekendgestel.
"Die platform sal voornemende entrepreneurs, entrepreneurs, klein besighede en korporatiewe maatskappye regoor die sakespektrum met mekaar verbind," sê Boshoff.
Verder het prof Jannie Rossouw, professor in ekonomie en hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), gesels oor die samewerking tussen sakekamers en die plaaslike regering vir die bevordering van die plaaslike ekonomie.
Ivor Price, mede-direkteur van die AHi en veelbekroonde joernalis het die jaarvergadering met spesiale bedankings afgesluit.
Die volledige jaarvergadering se video-opname is op die AHi se Facebook-blad en YouTube-kanaal beskikbaar.
Vir navrae, stuur 'n e-pos aan info@ahiwc.co.za of WhatsApp 079 592 5945. Om meer oor die AHi uit te vind, besoek www.myahi.co.za
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'