RIVERSDAL NUUS - Wanneer mens by die beginpunt van die Sleeping Beauty-staproete kom, lê een bord van Hessequa-munisipaliteit en twee borde van CapeNature plat op die grond.
Hierdie borde het reeds in Julie 2020 tydens 'n baie sterk wind omgewaai.
CapeNature is in Augustus 2020 deur 'n besorgde stapper daaroor in kennis gestel. 'n Skrywe was volgens hom aan die bestuurder van Grootvadersbosch-reservaat, wat vir die staproete verantwoordelik is, gerig.
Niks is egter oor 'n tydperk van 18 maande gedoen nie.
Die onderhoud aan die Sleeping Beauty-roete is volgens die klaer ook nie na wense nie en is daar 'n paar plekke waar dringende werk nodig is om die paadjie veiliger te maak en erosie te bekamp.
Hierdie staproete is baie bekend. Beide Hessequa-munisipaliteit en CapeNature noem dit graag as 'n gewilde staproete in die Langeberge.
Oral op die internet word die staproete ook genoem. Dit is inderwaarheid die enigste staproete wat in die ganse groot CapeNature-grondgebied in die Langeberge rondom Riversdal bestaan.
Die ander staproetes wat daar was, word ook nie meer onderhou nie.
• Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit:
CapeNature is verantwoordelik vir die bestuur, sowel as instandhouding van die staproetes. Hierdie funksie het etlike jare gelede onder Hessequa-munisipaliteit resorteer, maar aangesien dit staatsgrond is waarvan CapeNature verantwoordelik is vir die bewaring daarvan, sowel as die wetlike implikasies rondom aanspreeklikheid, is die bestuur van die wandelroete terug aan CapeNature oorhandig.
Die inligtingsbord met die munisipaliteit se logo is reeds 'n geruime tyd gelede verwyder en is slegs CapeNature se twee tekens steeds daar.
Daar word wel op 'n ad hoc-basis munisipale hulp vanaf ons brandweer, asook WOF (wanneer hulle beskikbaar is) verleen met die instandhouding van die staproetes en is CapeNature tans in gesprekvoering met onder andere die munisipaliteit, ten einde die gesamentlike bestuur/instandhouding van die roetes te bewerkstellig.
• Kommentaar deur CapeNature is teen spertyd nog nie ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'