RIVERSDAL NUUS - 'n Luilekker dag saam met jou woef, waar die kok van die huis ook sommer 'n blaaskans kan vat en ‘n sagte speelding in ‘n trekking gewen kan word is in die vooruitsig.
Die stappery begin reeds om 07:00 eerskomende Sondag, 12 Desember vanaf Riversdal-landbouskou se gronde.
Volgens die organiseerder en voorsitter van Community Animal Rescue Society (CARS) word geen toegangsfooi gevra nie, maar 'n skenking sal baie waardeer word.
Middagete word deur Hannelie Faddle verskaf, aansit of wegneem vanaf 12:00 teen R100 per persoon. Op die spyskaart is gegeurde rys, gebakte aartappels, pampoenpoffertjies, 'n groentegereg, biefstukpastei (steak pie), hoender en sous. Om dit mee af te rond, is daar heerlike malvapoeding en vla.
Vir 'n lekker atmosfeer sal Charles du Preez musiek verskaf en motorentoesiaste kan die veteraanmotors wat uitgestal gaan word, besigtig.
Onthou om kontant saam te neem, want daar sal 'n verskeidenheid stalletjies wees soos leerprodukte, 'n wit olifanttafel, blueberries, 'n broodbak-stalletjie (terwyl jy kyk hoe dit gebak word), asook laser sny.
Om dinge net meer interessant te maak, kan jy ‘n kaartjie van R20 by die tombolatafel koop en teen die einde van die verrigtinge sal die kaartjies getrek word en staan jy ‘n kans om ‘n sagte speelding te wen.
“Nog lekker aktiwiteite word vir die dag beplan, so kom geniet die dag saam met ons,” nooi Lotz.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'