WES-KAAP NUUS - Die provinsiale departement van maatskaplike dienste het R35 miljoen beskikbaar gestel vir noodvoedingsprogramme tydens die Covid-19-inperkingstydperk.
Die geld sal gebruik word om vir sowat 215 520 addisionele begunstigdes gekookte maaltye en kospakkies te verskaf. Dit is heelwat meer as die nagenoeg 100 000 mense wat reeds daagliks kos ontvang.
Die 50 000 ekstra kospakkies wat ’n gemiddelde gesin vir sowat ’n maand lank behoort te onderhou, word aan gesinne wat hulself in die volgende omstandighede bevind, verskaf.
Huishoudings wat op hierdie wyse deur Covid-19 geraak word, kom in aanmerking:
- Een of meer persone in die familie is positief vir die virus getoets en is in afsondering in hul huis;
- ’n Huishouding waar iemand besmet is, maar wat nie hulself tydens die inperkingsperiode kan onderhou nie;
- ’n Persoon wat medikasie ontvang of aan ’n chroniese siekte ly en hom/haarself nie kan onderhou nie, en wat deur die kliniek of dokter verwys is;
- ’n Persoon en sy/haar gesin wat hulself nie gedurende die inperkingstydperk kan onderhou nie en wat deur ’n geregistreerde instansie of plaaslike owerheid verwys is en deur die departement geassesseer is, maar wat nog nie ’n staatstoelaag ontvang nie - bejaardes, ’n huishouding met ’n kind as gesinshoof en persone wat wag om ’n toelaag te ontvang, sal voorkeur geniet.
Inwoners word genooi om die tolvrye nommer 0800 220 250 of die Hessequa-kantoor by 028 713 4147 te kontak indien hulle ondersteuning nodig het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'