RIVERSDAL NUUS - Tinus van den Berg volg Andrew Stroebel as die nuwe speaker by Hessequa-munisipaliteit op.
Suid-Kaap Forum wou weet wat Stroebel se raad aan sy opvolger is: “Wees net regverdig, behandel almal met respek, luister na álle kante, wees álmal se speaker, bestudeer wetgewing en hofuitsprake en, veral: werk slegs met feite.”
Tinus van den Berg, die voormalige uitvoerende burgemeester, is tydens ‘n spesiale raadsvergadering op 3 Julie met tien stemme (uit sewentien) as die nuwe speaker verkies.
Kort ná hy hom in die speaker-stoel sitgemaak het en met sy inhuldigingstoespraak begin, het ‘n luimige oomblik in die raadsaal plaasgevind. Terwyl hy die agenda bespreek, kondig sy selfoon ‘n inkomende SMS aan. Nie van stryk nie, borduur hy voort en loer onderlangs vlugtig na die skerm. Hy skakel die foon af en verklaar: “Dit was die voormalige speaker.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’