HEIDELBERG NUUS - Die erg gekweste Heidelberg-rugbyklub, wat volgens hul eie standaarde nie ’n goeie seisoen beleef nie, het gister soete wraak op Progress-rugbyklub geneem deur die bordjies met ’n oortuigende sege van 62 - 24 te verhang ná hul eersterondenederlaag van 42 - 27.
Dít nadat Heibi rustyd reeds met 34 - 10 voorgeloop het in hul vierde SWDRU Superliga Top 8-wedstryd.
Die tuisspan het nege drieë teenoor die besoekers se drie gedruk.
Gershom van Rooyen, oftewel “Mapiempi”, soos Heibi se vlugvoetige regtervleuel bekend staan, het ’n driekuns aangeteken.
In die eerste wedstryd van die dag het die besoekers se C-span met 33 - 7 geseëvier nadat hulle rustyd met 14 - 0 voorgeloop het.
Heibi se B-span het egter ook ’n wegholoorwinning van 50 - 15 behaal nadat hulle rustyd met 35 - 12 voorgeloop het.
Heibi se volgende wedstryd is op Saterdag 15 Augustus weg teen Barbarians van Mosselbaai.
Die span sal die momentum wil behou om as oorwinnaars in hul laaste wegwedstryd van die veld te stap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’