STILBAAI NUUS - Die soektog na Danny de Vos (66) duur voort nadat ’n grootskaalse soektog, ondanks gesamentlike pogings, geen nuwe leidrade opgelewer het nie.
Volgens inligting het lede van die polisie, die honde-eenheid, brandweer, raadslid Renee Davids en plaaslike inwoners op 16 Maart saamgespan in ’n poging om die vermiste man op te spoor.
Die soektog het omstreeks 09:13 begin en is teen 13:30 deur die polisie gestaak.
Verskeie hulpbronne, insluitend ’n snuffelhond en ’n hommeltuig is ingespan en die soekgebied is verder uitgebrei.
Ten spyte hiervan kon geen deurbraak gemaak word nie.
De Vos is reeds verlede Donderdag as vermis aangemeld.
Daar word vermoed dat hy moontlik al sedert die voorafgaande Saterdag nie weer by sy woning opgedaag het nie.
Die soektog is steeds aan die gang en alle leidrade word opgevolg.
Die gemeenskap word bedank vir hul volgehoue ondersteuning, hulp en betrokkenheid tydens die soektog.
Enigiemand met inligting oor waar De Vos hom dalk bevind of wat hom dalk gesien het, word versoek om die polisie dringend by 028 754 1501 te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’