HESSEQUA NUUS - Jy kry mooi. En mooier. En dan is daar (M)alta mooi. Wat dit besonders maak, is dat dié Malta-skoonheid 'n egte Suid-Afrikaner is. Gebore en getoë in Riversdal.
Die 45-jarige Hannelie van Wyk is Saterdagaand, 10 September, as die tweede prinses in die Mev. Malta-kompetisie gekroon. Wat dié prestasie merkwaardiger maak, is dat sy eintlik 'n buitelander is.
Dis die eerste keer in die geskiedenis van die Mev. Malta-kompetisie dat 'n buitelander in die topdrie geëindig het.
In 'n elektroniese onderhoud met Suid-Kaap Forum vertel Hannelie dat 'n vriendin haar aangemoedig het om in te skryf.
"Ek wou wys dat as jy regtig in jouself glo, jou drome waar kan word. Enigiets is moontlik as jy jou volle aandag daarop toespits en dis 'n boodskap wat ek graag aan alle vroue wou oordra.
"Ek woon in Gzira, 'n dorpie aan die kus van die hoofeiland en is eers gekroon as Mev. Gzira waarna ek deurgedring het na die eindronde van Mev. Malta. Ek het glad nie verwag om eers so ver te vorder nie en net om selfs in die topvyf te eindig is al klaar 'n groot prestasie.
"As 'n buitelander was ek ongelooflik dankbaar om soveel ondersteuning van die inwoners te kry. Hulle was regtig wonderlik vir my."
Op 'n vraag waarom sy op Malta besluit het, skryf sy dat sy nog altyd op 'n Mediterreense eiland wou bly.
"Alles is binne loopafstand en Engels is die hooftaal. Malta het omtrent deur die jaar sonnige weer en dis baie sentraal geleë en binne bereik van meeste Europese lande.
"'n Vlug Italië toe duur ongeveer twee uur en is redelik goedkoop. Malta is 'n klein eiland. Almal ken mekaar en dit herinner my baie aan Riversdal waar ek grootgeword het.
"Hier is ongelukkig nie die groenigheid van Suid-Afrika nie, maar dis baie veilig en as 'n vrou kan ek saans alleen gaan stap sonder dat iemand jou onnodig gaan nader of aanval."
Sy werk nou in die eiendomsbedryf, het ook haar eie klerebesigheid en is tans in gesprek met 'n Italiaanse skoenvervaardiger wat belangstel om haar met haar eie skoenreeks te help. Sy is enkellopend en het 'n 13-jarige seun, Sebastiaan Thomas.
"Ons praat Afrikaans in die huis, maar Engels is die voertaal op skool. Hy leer nou ook Maltese en Italiaans en speel vir Malta se waterpolospan. Hy is my trots."
LEES MEER: Hannelie oor haar grootwordjare in Riversdal
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'