HESSEQUA NUUS - Die tydelike skorsing van 'n senior DA-lid met jare se werksondervinding by Hessequa-munisipaliteit het meer as net 'n ligte beroering in die streek veroorsaak.
Dis tans 'n warm besprekingspunt, veral in Riversdal, en dis uit gesprekke duidelik dat die sage met sy skorsing met arendsoë dopgehou gaan word. Twee Kaapse dagblaaie het ook hieroor berig.
Louw Saayman, hoof van inkomste by die munisipaliteit, is as voorsorgmaatreël geskors hangende die uitslag van 'n ondersoek.
Dit volg nadat 'n fluitjieblaser alarm by die ANC se Hessequa-leier, Christopher Taute, gemaak het waarin hy glo bewyse voorgelê het dat Saayman voorafbetaalde elektrisiteit van etlike "duisende rande" na sy eie rekening oorgeplaas het.
Taute het Dinsdagaand in 'n telefoniese onderhoud aan Suid-Kaap Forum gesê dat hy en twee lede van die ANC, Elias Dayimani (hoofsweep) en Nadia Joseph, 'n paar weke gelede na die kantoor van die munisipale bestuurder, Albert de Klerk, gegaan het om die skriftelike bewyse aan hom te oorhandig. Volgens Taute wou De Klerk by hom weet wie die fluitjieblaser is.
"Grant Riddles, uitvoerende burgemeester het ook navraag gedoen oor wie die fluitjie op Saayman geblaas het."
Taute sê die ANC en van die inwoners is bekommerd dat die ondersoek gaan sloer en later op 'n tegniese punt uitgegooi gaan word.
"Hier is al voorheen negatiewe gebeure deur die munisipaliteit toegesmeer. 'n Klassieke voorbeeld was tydens die Covid-19-pandemie toe die DA kospakkies in die gemeenskap gaan uitdeel het. Van hul vriende en familie het daarby baat gevind, maar dié aantygings is nooit ondersoek nie en het 'n stille dood gesterf. En dis nie al nie..."
Taute sê Hessequa-munisipaliteit is nie beskeie oor hul "skoon administrasie" en waarvoor hulle vir agt jaar agtereenvolgens 'n skoon oudit gekry het nie. "Maar hier reg onder hul neuse word derduisende rande se voorafbetaalde elektrisiteit deur 'n senior lid van die DA én die munisipaliteit na bewering onreëlmatig aangewend.
"Dit het beslis nie oornag gebeur nie. Watter interne kontrole word by die munisipaliteit uitgeoefen? Die interne ouditeur of die ouditkomitee moes tog sekerlik snuf in die neus gekry of dit tydens 'n oudit agtergekom het. Dit plaas 'n vraagteken oor die 'skoon oudit' wat Hessequa jaarliks kry en laat mens nogal wonder... Dis duidelik dat die interne kontrole gefaal het."
Taute sê dit sal baie interessant wees om te sien wie aangestel gaan word om die ondersoek na Saayman te doen.
"Gaan dié ondersoek intern deur Hessequa se eie mense gedoen word, of gaan hulle eksterne, onafhanklike ouditeure kry om die taai toffie te hanteer?"
Tertuis Simmers, die interim DA-leier in die Wes-Kaap, het in 'n kort verklaring gesê die DA respekteer alle wetgewing en prosesse wat alle sfere van regering moet nakom om die regte van hul werknemers te beskerm.
"Die aannames van die amptelike opposisie, gebaseer op gerugte, spreek nie net tot hul onkundige benadering tot tersaaklike wetgewing en prosesse nie, maar dit dui ook op hul disrespek vir die regte van werknemers én hul disrespek vir die toewyding van werkgewers om regverdige prosesse te verseker."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'