HEIDELBERG NUUS - Met inbrake en diefstal aan die toeneem in die hele Heidelberg-streek, word die plaaslike polisie se taak bemoeilik deur sommige inwoners wat voordeel trek uit hul "winskopies."
Die sogenaamde winskopies skep groot probleme vir die polisie omdat dit volgens sers. Imorgene Hendricks, plaaslike woordvoerder, 'n mark vir die skelms skep.
Hendricks rig 'n ernstige waarskuwing aan alle voornemende kopers van gesteelde goedere dat daar drasties teen hulle opgetree gaan word.
Hendricks vra verder dat inwoners nie hul huise ongesluit of met oop vensters moet los nie al gaan hulle net gou iewers heen. "Ons word oorval met klagtes waar dit duidelik is dat inwoners hul deure en of vensters oopgelaat het terwyl hulle vinnig 'n draai gaan stap het. Die diewe het net 'n minuut of twee nodig om waardevolle items uit jul huise te buit."
Daar is onlangs by 'n plaaslike polisielid goedere en kontant van nagenoeg R20 000, waaronder R4 000 kontant, ringe, twee selfone, een horlosie en tekkies gesteel is. Die lid het egter nie 'n klag gemaak nie, maar self ondersoek ingestel en al die goedere behalwe die kontant teruggevind by die kopers wat dit gekoop het.
Daar is ook die afgelope naweek in Youngsirkel 'n 2m elektriese kabel net buite die AGS kerk gesteel wat meegebring het dat die kerk, asook 'n paar ander huise, sonder krag was. Die kabel is wel vervang, maar die diewe loop nog op vrye voet rond.
Hendricks rig 'n dringende waarskuwing aan alle kopers van gesteelde goedere om die praktyk te staak of tronkstraf in die gesig te staar.
Enige inligting wat sal lei tot die arrestasie en skuldigbevinding van die diewe en die kopers van die goedere sal hoogs vertroulik hanteer word. Hendricks kan by 079 893 9930 of die dienssentrum by 10111 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'