RIVERSDAL NUUS - Kindersorg Suid-Afrika Riversdal se saal is onlangs opgeknap.
Dié saal word gereeld gebruik om programme vir ouers en kinders - soos vakansieprogramme vir leerders - aan te bied.
Meghann Louwrens van Riversdal Toyota het in 2017 dié saal se buitekant laat verf. "Ek is 'n Toyota Knight en om hiervan deel te wees, moet ek saam met die handelaar en ook op my eie aan sekere vereistes, soos tevredenheid van kliënte, produksie, markaandeel en betrokkenheid in die gemeenskap voldoen," het Louwrens vertel.
Sy het al verskeie kere die 'Toyota Customer Experience Knight of the year' gewen. "Ek ontvang jaarliks 'n bedrag geld van Toyota SA wat ek vir 'n projek van my keuse gebruik. Dit dek nie alles nie, dus finansier ek en Riversdal Toyota die res van my groot projek."
Die saal se binnekant is uitgeverf en houtvloere is afgeskuur, skoongemaak en geseël. In die plek van die ou gordyne hang splinternuwe blindings. Muurbehangsels en verftegnieke verhelder die binnekant. Louwrens bedank almal wat gehelp het.
By die saal ontvang 68 behoeftige mense, wat kinders insluit, weeksdae 'n bord kos. Volgens Shahida Filander, sekretaris van die plaaslike kindersorgtak, is hierdie slegs mense wat 'werklik onder die broodlyn leef". "Ons is baie dankbaar en opgewonde oor die saal. Ons sal dit weer kan uitverhuur en sodoende nog 'n inkomste kry."
Kindersorg bied 'n Boy Child-program aan wat 10 seuns ïdentifiseer vir wie lewensvaardighede aangeleer word. Dit sluit inligting oor die kinderwet, oueropleiding en besoeke aan die museum en dierekliniek in. Bianca Adams, maatskaplike werker het gesê dat hulle probeer om die kinders bewus te maak van wat in hul dorp gebeur. "Ons ontvang net 'n toelaag en moet die res van die geld self insamel. Daarom probeer ons om elke maand 'n fondsinsameling te hou. Dié opknappingswerk sal soveel deure vir ons oopmaak en ons kan nuwe projekte aanpak."
'n Gholfdag word beplan en 'n beroep word op gholfspelers en besighede gedoen om daaraan deel te neem. Skenkings van speelgoed, klere, babadoeke, tandeborsels en seep, hoede, vere en speelgoedmaskers, melk en vars groente is ook welkom.
Vir meer inligting skakel 028 713 1986.
Kleurvolle muurbehangsels en 'n nuut afgeskuurde vloer skep 'n heel ander atmosfeer.
Die ingang van die saal laat ’n mens dadelik welkom voel. Foto: Madri Stegmann Fotografie
Voor die saal ’n gedaanteverwisseling ondergaan het.
Die saal se ingang voor dit opgekikker is.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'