HESSEQUA NUUS - Die Suider-Afrika Agri Inisiatief, oftewel SAAI, het 'n databank geskep om vuurwapeneienaars gedurende die amnestieperiode by te staan.
Eienaars wat tydens die periode hul wapens inhandig is vir hernuwing van lisensies, kan op die databank registreer sodat dit later opgevolg kan word.
Bheki Cele, die minister van polisie het op 27 November amptelik aangekondig dat die periode vanaf 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2010 sal duur. Indien die lisensie reeds verval het, kan daar ook vir die wapens wat ingehandig word, opnuut aansoek gedoen word.
"SAAI verwelkom die amnestie, veral vir diegene wie se hernuwingsaansoeke in die dikwels chaotiese toestande in polisiekantore vertraag is of weggeraak het," sê dr. Theo de Jager, SAAI se direksievoorsitter.
Een miljoen wat wag
Volgens hom het Cele erken dat die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) nie tans die normale vloei van hernuwingsaansoeke kan hanteer nie en die agterstande is deels daaraan toe te skryf. De Jager is veral bekommerd oor die polisie se vermoë om die amnestie oor die volgende ses maande sinvol te bestuur.
"Daar is 'n geraamde een miljoen wettige vuurwapens waarvan die hernuwingsaansoeke vertraag is. Ons is ook bekommerd oor die huidige eienaarskapstatus van wapens op die SVR."
Hy meen die polisie is intens daarvan bewus dat wettige vuurwapens nie die probleem in die land is nie, maar dat dit onwettige vuurwapens is, waarvan baie min tydens die vorige twee amnestieperiodes ingehandig is.
Eie wapens raak weg
Boonop het die polisie 'n swak baanrekord wat vuurwapenbeheer betref, aangesien hulle duisende van hul eie vuurwapens die afgelope paar jaar verloor het.
"Cele het in Augustus vanjaar aangekondig dat daar vanjaar reeds meer as 500 wapens uit polisiebeamptes se hande weggeraak het."
Op grond van hierdie syfers is veral familieboere bekommerd dat polisiekantore die onveiligste plek is om die vuurwapens wat hulle moet inhandig, te stoor. Daar is ook geen aanduiding van hoe lank die wapen uit die eienaar se besit sal wees nie. "Gegewe die tragiese syfers rondom plaasaanvalle en -moorde en die rol wat parate vuurwapenhantering in selfbeveiliging op plase speel, is hierdie boere baie skepties oor die sin daarvan om hul wapens onbepaald in te handig.
"Uit ervaring in veral landelike gebiede vra boere tereg of die polisie die kapasiteit en bestuursvermoë het om 'n amnestieperiode soos hierdie suksesvol te kan voltrek." Hulle is ook besorg daaroor dat laataansoeke dalk teen hulle gebruik mag word in die vuurwapenbevoegdheidstoets.
Stuur jou naam per WhatsApp na SAAI by 066 071 6094 om tot die databank gevoeg te word.
The Southern Africa Agri Initiative (SAAI) created a databank for storing the particulars of farmers who want to make use of the firearm amnesty period which commenced on 1 December and runs until 30 May 2020. The initiative is sceptical about the police's ability to handle the flood of renewals in time and to safely store the firearms.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'