Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Hulle mag dalk aan 'n rolstoel gekluister wees, maar die inwoners van Huis Wallace Anderson is volledige mense - hul gees is vry.
Dié huis vir liggaamlik gestremde persone, wat binne hul vermoë 'n bydrae lewer om finansieel volhoubaar te wees, se projekbeplanning en fondsinsameling het in ongeveer 1987 begin en is op 15 Mei 1993 amptelik geopen.
Dit is vernoem na prof. Wallace Anderson, destyds die hoofdirekteur van gesondheid en welsyn deur wie se toedoen die projek as 'n privaat welsynsorganisasie en 'n tak van die Vereniging vir Liggaamlik Gestremdes (Wes-Kaap APD) op 19 Augustus 1988 geregistreer is.
Thinus Duvenhage (oudste inwoner op 75 jaar), Danie du Toit, Marisa Burger, Sylvia Kirkman, Kerneels Wolfaardt en Arthur Abrahamse (die jongste op 46 jaar), is almal kwadrupleë wat in die doelontwerpte huis woon waar hulle 24-uur versorging en drie maaltye per dag ontvang.
"Ons is soos enige ander persoon - die reëls is net 'n bietjie anders," vertel Du Toit, wat al 23 jaar hier woon. "Aanvanklik was my toestand vir my 'n verskriklike krisis, want ek het geen verwysingsraamwerk daaroor gehad nie. Daar was 'n stadium van wanhopigheid, maar deur genade stap jy die pad."
Duvenhage, wat al 19 jaar hier woon, vertel hy is op 9 Julie 1969 met Kowie getroud. Op 24 Oktober van dieselfde jaar het 'n motorongeluk sy lewe ingrypend verander. "Ek het wakker geword en die gordyne was toegetrek - ek het nie lig gesien nie, maar die liewe Vader en Kowie se ondersteuning het my deurgedra, en vanjaar is ek en Kowie 50 jaar getroud."
Sandra van Jaarsveld, 'n plaaslike rekenmeester, is die voorsitter van die bestuursraad. Van die inwoners dien op die raad en almal is betrokke by aspekte van die bestuur en fondsinsamelingsprojekte. Duvenhage hanteer finansies en tuinonderhoud, Du Toit, die ondervoorsitter, bestuur Wallace Anderson Computer Designs, Burger hanteer die kombuis, Abrahamse hanteer voertuiglogistiek en Wolvaardt is personeelbestuurder. Laasgenoemde twee werk ook in die drukkery. Kirkman bestuur Wallace Anderson Plastics.
Kyk 'n video hieronder:
Fondse word genereer deur die twee besighede, Engela Pool se haarsalon en produkte wat uit die roos- en groentetuin verkoop word. "Die Huis se voortgesette bestaan is grotendeels te danke aan die gemeenskap van die hele Hessequa-streek, maar ook aan getroue vriende verder weg," sê Duvenhage.
Dit sluit vriende soos Alpha Pharm in wat onlangs mediese versorgingsmiddels ter waarde van R12 000 aan die Huis geskenk het. "Ons wil Alpha Pharm uit die diepte van ons hart bedank vir die groot skenking wat aan Huis Wallace Anderson oorhandig is," het Erica du Toit van die Nasionale Vereniging van en vir Liggaamlik Gestremdes (NAPD) gesê.
Die 10 voltydse versorgers sluit twee motorbestuurders in. Ander personeel is Denise van Eeden, kok, W'anyah Brand, administratiewe beampte, Mina Joseph, winkelassistent, en Elize Joubert en Juan Kapp, drukkery-assistente.
IN SHORT
The residents of House Wallace Anderson take care of themselves by running two businesses despite being confined to wheelchairs, but they appreciate donations. Alpha Pharm recently donated goods to the value of R12 000 to them.
•Lees 'n vorige artikel hier: Liggaam dalk gestrem, maar gees is vry
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'