RIVERSDAL NUUS - Skenkers wat sedert Vrydagmiddag kospakkies by Suid-Kaap Forum vir Becca's Soup Kitchen kom aflewer het, het almal verkies om anoniem te bly.
Maar dis hul dade wat boekdele spreek.
"Ons doen dit nie om op die skouer geklop te word of om openbare erkenning of selfs dekking in die koerant te kry nie. Die donasies kom uit die hart uit. Die wete dat ons 'n bydrae kan lewer, hoe gering ook al om hongersnood te verlig, is erkenning genoeg."
Dit was die afskeidswoorde van 'n pensionaris wat eerste was om Vrydag-middag sy bydrae te kom aflewer.
Daar was 'n effense benoudheid Vrydagoggend toe die Forum op straat kom en niemand of niks reageer op die voorbladberig waarin ons vir bydraes vir die sopkombuis vra nie. Teen 12:00 het die vae benoudheid verander na die tipe moedeloosheid wat met fase 6-beurtkrag inskop.
En toe kom die eerste aflewering. Sommer 'n gawe klompie blikkieskos en sopmengsels.
Die naweek was alles doodstil, maar Maandag het dinge mooi opgetel. 'n Boer het 'n streepsak met groot patats kom aflaai.
"Jong, my oeste is klaar af anders het die bydrae anders gelyk. Maar dié is wat ons nog op die lande kon bymekaarskraap. Jy weet, eendag moet ons almal verantwoording doen en as jy iets vir so 'n saak kan bydrae en jy versuim om dit te doen, is jy mos 'n sondaar."
Personeellede van Riversdal Spar met 'n fraksie van die skenkings vir Becca's Soup Kitchen. Twee groot winkeltrollies was boordens toe vol gelaai met kosvoorraad en die bakkie het behoorlik gekreun onder die gewig. Foto's: Hugo Redelinghuys
Vandaar af tot Woensdagmiddag laat is kospakkies, blikkieskos, sopmengsels, brood en groente nog afgelewer. Tot 'n pak gevriesde wildsvleis. En 'n splinternuwe pot.
En heelwat gaar kosse, polonies en beskuitjies.
Maar wat toe 'n jong vrou haar pakkie kom aflewer met R300 kontant - vir gas - kon mens die trane nie meer keer nie.
Soveel welwillendheid en omgee en naasteliefde.
En toe kom die Riversdal Spar se bydrae. Kartonne met rys, visolie, broodmeel, melk, pasta, sakke aartappels.
"Dis ongelukkig al wat ek kan afknyp die maand, maar ek bring weer," was 'n pensionaris se afskeidswoorde.
En vandag is daar nog op pad. Uit Stilbaai uit. Die goedheid en ruimhartigheid van Hessequa se inwoners hou net nie op nie.
In 'n plastieksakkie met die kontant en die kort boodskap...En 'n sak kos. Hoe beskryf mens dit in woorde?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’