RIVERSDAL NUUS - Sy is maar agt jaar oud, het eers vanjaar 'n kettie behoorlik leer hanteer en het gedink sy skiet sommer net vir die pret. Toe tref Liebe du Plessis van Riversdal egter die kol - én stap as internasionale wenner van haar ouderdomsgroep weg.
Liebe, 'n gr. 2-leerder van Laerskool Volschenk en lid van die Pikkewyne-span van die Riversdal Voortrekkers, het onlangs die o. 8-afdeling van Die Voortrekkers se eerste internasionale kettieskietkompetisie gewen.
Liebe én haar ouers het aanvanklik nie eens besef sy ding teen deelnemers van ander lande mee nie.
Die kompetisie het Voortrekkers van Suid-Afrika, Namibië en Nieu-Seeland teen mekaar laat kragte meet.
Altesaam 102 inskrywings is ontvang - 50 uit Suid-Afrika, 36 uit Namibië en 16 uit Nieu-Seeland.
Liebe het eers vanjaar begin kettieskiet nadat haar pa, Wiekus du Plessis, haar die kuns geleer het. Sy het ook maar onlangs by Die Voortrekkers aangesluit.
Volgens Wiekus is sy "'n bok vir sports" wat nie maklik 'n geleentheid vir 'n nuwe aktiwiteit laat verbygaan nie.
Kettieskiet het intussen vir hulle 'n lekker pa-en-dogter-tydverdryf geword.
Wanneer die gesin in die berge gaan stap, gaan Liebe se kettie sommer saam.
Van senuwees voor die kompetisie was daar min sprake.
"Ek was glad nie senuweeagtig om aan die kompetisie deel te neem nie. Ek was onder die indruk dit was net vir pret," vertel Liebe.
Pret of nie - dié jong skut het raak gemik en 16 punte aangeteken.
"Ek was baie bly toe ek 16 punte geskiet het en nog blyer toe ek hoor ek het die kompetisie gewen."
Volgens Wiekus het hulle Liebe bloot ingeskryf omdat sy graag wou deelneem.
Hulle het nie geweet dat dit 'n internasionale kompetisie is nie en het ook nooit voorheen besef dat sy 'n besondere aanleg vir kettieskiet het nie.
"Ons was baie trots en beïndruk toe ons hoor sy het die hoogste punte in haar ouderdomsgroep behaal.
Die verbasing was nog groter toe ons uitvind sy is die internasionale wenner," sê hy.
Die kompetisie is by verskillende Voortrekkerkommando's aangebied, waarna deelnemers se tellings vergelyk is om die wenners in elke ouderdomsgroep te bepaal.
Elke ouderdomsgroepwenner het 'n R500-geskenkbewys van die Voriemôl ontvang.
Liebe weet reeds waarvoor haar prys aangewend gaan word: sy wil benodigdhede vir haar Voortrekkeraktiwiteite koop.
En sy is nog lank nie klaar met die kettie nie.
Sy gaan aanhou oefen en wil volgende jaar weer probeer wen.
Volgens Die Voortrekkers het die kompetisie nie net op prestasie gefokus nie, maar ook op deelname, pret en die samesyn wat tussen Voortrekkers oor landsgrense heen geskep is.
Die organiseerders beplan om die internasionale kompetisie volgende jaar weer aan te bied.
Vir die Du Plessis-gesin is daar darem nou ook 'n onverwagse bonus aan Liebe se nuwe talent: hulle kan snags rustig slaap met die wete dat daar 'n skerpskutter met 'n kettie in hul midde is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’