RIVERSDAL NUUS - 'n Polisiereservis van Riversdal is in Kaapstad vir sy uitstaande diens vereer. Konstabel Edwin Kortje is op 11 November in Kaapstad by die Wes-Kaapse-polisietoekenningsgeleentheid vir uitnemendheid as die reservis van die jaar aangewys.
Hy sal nou in Januarie 2024 na die nasionale toekennings genooi word waar hy teen die ander provinsies se bestes gemeet sal word.
Lt. kol. Delicia Isaacs, stasiebevelvoerder in Riversdal, sê sy is baie trots op Kortje se prestasie en dat hy met sy hardwerkendheid 'n groot steunpilaar is vir die plaaslike polisie.
Sers. Garnet Damans, koördineerder van die reserviste, sê Kortje is 'n groot aanwins vir die polisie en dat hy ongetwyfeld al die lof verdien wat hom toekom.
"Edwin stel 'n navolgenswaardige voorbeeld vir ons almal met sy hardwerkendheid."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’