RIVERSDAL NUUS - Riversdal-skou is onlangs tydens die jaarlikse Agri-Expo ledeskouvergadering by die Houw Hoek Hotel in Grabouw vereer met ’n spesiale toekenning vir sy bydrae tot innovasie in die skoubedryf.
Verteenwoordigers van Riversdal-skou het die vergadering op 18 en 19 Junie bygewoon, waar die organisasie erkenning ontvang het vir sy kreatiewe benadering om steeds ’n betekenisvolle skouervaring aan kinders te bied te midde van die uitdagings wat deur BKS (bek-en-klouseer) veroorsaak word.
Die toekenning is spesifiek toegeken vir die inisiatief om kinders die geleentheid te gee om ’n skouervaring van plaasdiere te beleef, ondanks die afwesigheid van lewende diere weens BKS-beperkings.
Volgens Riversdal-skou is die erkenning ’n besondere eer en ’n bewys van die organisasie se verbintenis tot vernuwing en die behoud van die unieke plattelandse karakter waarvoor die skou bekend is.
“Ons is baie trots om weer ’n spesiale toekenning van Agri-Expo te ontvang.
Dit bevestig dat kreatiewe oplossings en aanpasbaarheid steeds ’n belangrike rol speel in die voortbestaan van landbouskoue,” het die vise-president, AJ van Wyk, gesê.
Tydens die vergadering is die datums vir die volgende Riversdal-skou ook amptelik bekendgemaak.
Die gewilde landbou- en gemeenskapsgeleentheid sal van 17 tot 21 Februarie 2027 plaasvind.
Skougangers en uitstallers kan reeds die datums op hul kalenders merk vir nog ’n viering van landbou, gemeenskap en die plattelandse leefwyse waarvoor Riversdal-skou bekend is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’