RIVERSDAL NUUS - ’n Nuwe “pump track” of fietsrybaan is amptelik op Donderdag 30 April by Aalwynfleurpark in Riversdal geopen, en bied nou aan jong fietsry-entoesiaste ’n veilige en opwindende ontspanningsruimte.
Die projek, wat deur die Hessequa-munisipaliteit se toerisme-eenheid geïnisieer is, is moontlik gemaak deur befondsing van die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme se Toerisme Groeifonds.
’n Pump track bestaan uit ’n kort, lusvormige baan met spronge en skuinste waar ryers momentum bou deur hul liggame op en af te “pomp”, eerder as om voortdurend te trap.
Die baan, wat teen ’n koste van R249 000 deur ’n plaaslike kontrakteur voltooi is, is tussen die tennisbane en die muurbalklubhuis geleë.
Dit is spesiaal ontwerp vir kinders en jeugdiges tussen ses en 16 jaar oud en sluit ook twee bankies en twee vullisdromme in.
Volgens die munisipaliteit vorm die nuwe baan deel van ’n groter toerisme-infrastruktuurprojek wat oor die afgelope 18 maande in die Hessequa-gebied uitgerol is.
Dit sluit onder meer die oprigting van foto-rame, uitkykpunte, piekniekareas en walviskunswerke in.
Die munisipaliteit meen die nuwe fasiliteit sal nie net plaaslike jeugdiges aanmoedig om aktief te bly nie, maar ook ’n verdere hupstoot aan toerisme in die streek gee.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’