RIVERSDAL NUUS - Die gewilde Riversdal Jeugweek, wat van 27 tot 30 Julie plaasvind, vier vanjaar sy 31ste bestaansjaar met 'n program wat beloof om lewens aan te raak en harte te verander.
Wat begin het as 'n kleinskaalse gemeente-inisiatief, het oor die jare gegroei tot 'n geleentheid vir tieners van al drie hoërskole in Riversdal - Hoërskool Langenhoven, Hoër Landbouskool Oakdale en Gerrit du Plessis Senior Sekondêr.
Tydens verlede jaar se byeenkoms het tussen 600 en 800 tieners die kerkgebou van die Moedergemeente gevul - 'n duidelike aanduiding van die behoefte aan positiewe, hoopgewende boodskappe in jongmense se lewens.
Die musiekbediening word elke aand aangebied deur 'n energieke orkes bestaande uit lede van verskeie kerke, onder leiding van pastoor Francois Barnard, en skep die ideale atmosfeer vir lofprysing en aanbidding.
Vanjaar se gasspreker is niemand anders nie as die bekende Johnny Davids, geliefde TV- en radio-aanbieder, sanger én skrywer van die boek Boytjie.
Davids bring nie net sy indrukwekkende lewensverhaal nie, maar ook 'n boodskap van hoop, genesing en 'n nuwe begin.
Johnny se lewensreis, van verwerping en trauma tot vergifnis en sukses, dien as 'n inspirasie vir jonk en oud. Sy optrede beloof om eerlik, roerend en lewensveranderend te wees.
Program
• Sondag 27 Julie om 09:30: Johnny spreek die volwassenes tydens die oggenddiens toe.
• Maandag 28 tot Woensdag 30 Julie om 18:30 - 20:00: Hooffokus op tieners, maar die hele gemeenskap is welkom.
"Hoewel dit Jeugweek is, nooi ons almal - oud en jonk - om saam te kom luister na 'n boodskap van hoop," sê ds. André Jordaan van die NG Moedergemeente.
Vir meer inligting skakel ds. André Jordaan by 082 718 3991.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’