HEIDELBERG NUUS - Een van die grootste en gewildste sportgebeurtenisse op Hessequa se sportkalender is die jaarlikse Vlakte-marathon.
Die 22ste weergawe van dié uitdagende marathon breek Saterdagoggend om 05:00 aan wanneer die swaar infanterie die 40 km vanuit Heidelberg aanpak.
Hulle word om 06:00 gevolg deur die deelnemers aan die 21,1-halfmarathon en om 07:00 is dit die blitse wat die 10 km-wedloop aandurf.
Vir die minder ernstige atlete en skoolleerders breek die 5 km-wedloop om 08:00 aan. Vir baie deelnemers is dié kort afstand 'n saak van groot erns en word daar sterk onder mekaar meegeding. Daar is nogal 'n bietjie spogwaarde sou jy die eindstreep in Witsand eerste oorsteek.
Teen druktyd het die organiseerders reeds sowat 1500 inskrywings ontvang - 'n verbetering van amper 200 meer op die 1260 atlete wat in 2023 in aksie was. Dié getal kan nog styg siende dat laatregistrasie op Vrydag 22 November om 15:00 by Hoërskool Heidelberg open. Laatslapers kan nog tot om 20:00 registreer.
Vir toeskouers word daar weer vanjaar voorsiening gemaak, veral diegene wat hul kele rou geskreeu het om die deelnemers aan te moedig. By die eindpunt sal daar die gebruiklike biertent met musiek wees. Ook talle kosstalletjies waar die hongeres en dorstiges van hul drange verlos kan word.
Maar as jy die ware stemming en ambience van die Vlakte-marathon wil ervaar, is dit belangrik om stelling in te neem op die verskillende roetes waar jy die atmosfeer en ongelooflike geesdrif kan geniet. Dis hier waar jy elke element, van hoogdrama tot ekstase, kan indrink en te besef waarom die Vlakte-marathon homself al bewys het as die mees indrukwekkende sportgebeurtenis in Hessequa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’