HESSEQUA NUUS - Vanjaar se kinderkunsprojek het 221 inskrywings opgelewer; die meeste nóg.
Dit is die derde keer dat dié kunskompetisie vir laerskoolleerders van nege tot dertien jaar oud aangebied word - in samewerking met die Hessequa-kunsroete, Hessequa-biblioteke en ‘n aantal borge.
Vanjaar se tema was, Vier seisoene in Eden se tuin.
Die beoordelaars het gister, 11 September, die 25 beste werke gekeur. Hulle het vyf goue, vyf silwer- en 15 bronsdiplomas aan die wenwerke toegeken.
Heidelberg se skole en jong kunstenaars loop voor met agt diplomas, gevolg deur Riversdal (sewe), Albertinia (vyf), Stilbaai (drie) en Melkhoutfontein en Brakfontein (een elk).
Riversdal (Voorwaarts Primêr) het een goue wenner en drie silwerwenners opgelewer. Albertinia spog met drie goue diplomas en een silwerwenner, gevolg deur Laerskool Bertie Barnard, Stilbaai, met een silwerdiploma.
“Dit is wonderlik om te sien hoe die kinders vanjaar deelgeneem het. Die talent groei elke jaar en die pragtige kunswerke het dit moeilik gemaak om ‘n gunstelik te kies,” sê Ursula Oosthuizen, die Hessequa-streekbibliotekebestuurder.
Een van die beoordelaars, James Stanley, voeg daaraan toe: “Sinvolle kunswerke wat met sterk, diep kleure die hele bladsy vul. Die treffendste inskrywings - met begrip van komposisie - toon talent om op trots te wees! Dit is duidelik dat leiding met begrip gegee word deur toegewyde, passievolle pedagoge in skilderkuns.”
Al die inskrywings word van 17 tot 21 September by die biblioteek met die tema “Simfonie” in Heidelberg tydens vanjaar se Hessequa-Harmoniefees ten toon gestel. Die wenners word daar aangewys.
Die borge sluit Suid-Kaap Forum (mediavennoot), Jack’s Paint, JC Slagtery, 3@1 en Dala in.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’
Die keurders van vanjaar se kinderkunsprojek met die tema “Vier seisoene in Eden se tuin” is: Rayn Kluyts, Melanie Cloete (bibliotekaresse), Louise Kluyts (die voorsitter van die Hessequa-kunsroetekomitee), Louwena Kotzé, James Stanley en Danie Cronjé. Foto: CJ de Swardt