Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Rekenaars is nie die toekoms nie, dis die hede.
So sê mnr. Louis Lategan, hoof van Laerskool Volschenk. Hy en sy vrou Petria het in Januarie vanjaar hier begin skoolhou.
Petria is 'n rekenaarkundige en onder haar leiding ontvang elkeen van die 458 leerders van gr. 1 tot gr. 7 een maal per week rekenaaropleiding.
Tydens skoolure doen die gr. 1 tot 3-leerders die Olso-klas rekenaargesteunde perseptuele- en wiskunde-aktiwiteite, terwyl die gr. 4 tot 7-leerders vakverwante navorsingstake op die rekenaars doen. Hulle word geleer om self op die internet navorsing te doen en die inligting op aanskoulike en korrekte wyse af te rond en aan te bied. Lategan sal graag wil sien dat leerders in die toekoms glad nie take op papier inhandig nie, maar op die rekenaar of tablet in Word, Excel of PowerPoint.
"Ons kinders word groot in 'n visuele en tegnologiese wêreld en daarom is dit belangrik dat ons op hoogte bly, ons leerders se belangstelling prikkel en skoolgaan vir hulle lekker maak. Onderwysers kan nie vandag meer skoolhou sonder die internet nie en elke klaskamer is toegerus met 'n interaktiewe witbord. Wanneer 'n les byvoorbeeld oor die oorstromings in Mosambiek aangebied word, kan die leerder dit sien gebeur: ons bring as't ware die oorstroming in die klas in. Die handboek is steeds daar, maar wanneer die leerders visueel gestimuleer word, gee hulle net soveel meer aandag. YouTube-video's is ook van onskatbare waarde vir onderwys," sê hy.
"Ons sal graag in die toekoms ook wil fokus op tablette in die klaskamers en hoop dat die regering hierdie droom van hulle sal verwesenlik."
Die bestaande rekenaarsentrum by die skool beskik oor 41 tafelrekenaars wat vir rekenaaropleiding gebruik word. "Die onderwysdepartement verskaf gratis Wi-Fi internetverbinding, maar dit is wisselvallig. Ons het op die skool se begroting rekenaarkabels laat lê wat direk met die rekenaars verbind is."
Leerders kan ook aansluit by die rekenaarklub wat as buitemuurse aktiwiteit aangebied word en waar gevorderde rekenaarwerk in kleiner groepe gedoen word.
By Gerrit du Plessis Senior Sekondêr word ook van die gratis Wi-Fi en internet gebruik gemaak. "Ons skool belê tans in dataprojektors vir elke klaskamer. Opvoeders skaf hul eie skootrekenaars aan en gebruik die gratis Wi-Fi om lesse elektronies aan te bied," sê mnr. Richard Flores, die skoolhoof.
"Voorbereiding word elektronies gedoen en met 'n dataprojektor oorgedra, wat baie tyd in die klaskamer spaar. Die skool het ook 'n rekenaarsentrum waar rekenaarvaardighede aangeleer word. Leerders gebruik die internet om onder meer inligting oor loopbaangeleenthede op te soek en navorsing vir take te doen. Dit is veral nuttig vir die matrieks wat toegang tot ou vraestelle kan kry."
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Rekenaaropleiding 'n moet in skole
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'