HEIDELBERG NUUS - Wat vir Jennifer Hartnick, Hessequa-raadslid, 'n rustige Sondagmiddag op pad na 'n vergadering in Albertinia moes wees, het byna haar lewe gekos toe die motor wat sy bestuur het, aan die brand geslaan het.
Die noodlot het haar sowat 5 km voor Riversdal getref toe sy opmerk dat rook onder die enjinkap uitkom.
Sy het onmiddellik afgetrek en uit die voertuig gespring.
Sy het die motor gehuur aangesien haar eie motor buite werking is.
Volgens Hartnick, het daar gelukkig 'n munisipale watertenkwa agter haar gery.
Die bestuurder het gestop en hulp verleen.
Terselfdertyd het 'n verkeersbeampte gestop, wat onmiddellik die verkeer begin reguleer het en die brandweer ontbied het.
"Terwyl ek nog oor hierdie onverwagte gebeurtenis gewonder het, het daar ook 'n Sanral-beampte gestop wat ook baie behulpsaam was," het sy vertel.
"Danksy 'n paar barmhartige samaritane was die situasie gou onder beheer," het Hartnick, steeds ietwat geskok maar verlig, vertel.
Hartnick het haar noue ontkoming soos volg opgesom: "Dat ek vandag 'toevallig' ongeskonde uit daardie voertuig kon klim, maak my ewig dankbaar.
We truly serve a living God."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’