MELKHOUTFONTEIN NUUS - 'n Nie-winsgewende maatskappy, For the Love of Animals en Swings of Hope wat dienste in dié dorpie, asook Stilbaai lewer, het verskeie projekte waarmee hulle fokus op die opvoeding en opheffing van die gemeenskap.
Volgens Nicole Botha het hulle, For the Love of Animals, in Januarie 2021 gestig met die doel om massa-sterilisasieprogramme gereeld aan te bied, sodat dieremishandeling en oorvloed van diere op die strate in beheer kan bly.
"Soos tyd verbygegaan het, het 'n groep van sowat 15 kinders ons daagliks begin volg en probeer help met die voer van diere en basiese hulp met vlooi- en bosluisbehandeling, asook ontwurming. Ons het hulle geleer hoe om diere met liefde en respek te hanteer, asook die ouers oor hoe om hulle diere te hanteer en wat die welsynsregulasies behels," verduidelik Botha.
"Hierdie kinders, tussen die ouderdomme ses en 13 was nooit in die skool nie. Ons het begin agterkom dat hulle erg verveeld is wanneer ons nie daar is om hulle besig en uit die kwaad uit te hou nie."
Hulle het toe begin om formele klasse by Ouma Lena se huis op 'n Woensdag aan te bied, waar hulle die Four Paws-modules met die kinders kon deel. Sowat 50 kinders het die kursus vroeër in Augustus vanjaar geslaag en hulle sertifikate ontvang.
"Ons het ook vir 'n paar maande skopboksklasse en boeresport as naskoolse aktiwiteite aangebied.
"Die gholfklasse wat al amper 'n jaar lank aangebied word, is baie gewild. Ons nuwe afrigter, Christopher Waullenbach, het sy hande vol met ons baie entoesiastiese groep gholfers."
Die juniors oefen Maandae vanaf 14:00 tot 15:00. Daarna rig Waullenbach die kinders af wat die afgelope jaar gereeld oefen. Hy is baie positief en opgewonde oor die natuurlike talent wat weekliks ontdek word. Sondae neem hy 'n groepie van die kinders na Stilbaai-gholfklub, waar hy hulle oor gholfetiket leer en aan hulle tegniek werk.
"Ons het ook 'n fantastiese afrigter en professionele gholfspeler, Garth Pearson wat die kinders ook eenkeer per week op die gholfbaan afrig," vertel Botha.
In April vanjaar het hulle met die Louis 57 Foundation kontak gemaak. "Sedertdien ondersteun hulle ons fantasties. Hulle het 'n pragtige video in Melkhoutfontein geskiet wat op YouTube is (Louis57 Foundation - Golf's story of Hope).
"Die groter prentjie is om die kinders, wat tog ons toekoms is, van die strate af te hou en goeie rolmodelle te skep sodat hulle ook na 'n toekoms kan uitsien wat helder en vol hoop is. Dis moeilik om aan die toekoms te dink wanneer jy deur dwelms en bendes omring is, jou ouers afwesig is en niemand regtig omgee waar jy is of wat van jou gaan word nie. Ons as 'n gemeenskap wil saamstaan en hoop vir ons kinders skep."
Botha bedank almal wat hulle met weeklikse donasies van honde- en katkos, asook gholfstokke en balle ondersteun.
"Sedert 10 Augustus is ons as 'n openbare weldaadorganisasie (PBO) geregistreer, wat ons toelaat om 18A belastingsertifikate uit te reik," sluit sy af.
Vir meer inligting oor die organisasie en projekte, skakel vir Michelle Panton by 072 530 1892 of Botha by 062 458 0314. Hulle is ook op Facebook onder For the Love of Animals en Swings of Hope.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'