HESSEQUA NUUS - Vandag skryf ons nie boetes uit nie, maar doen ons net goeie dade en saai net liefde.
Só het Esmé Pieterse, 'n plaaslike verkeersbeampte, die gemeenskapsprojek beskryf waar verskillende departemente binne die Hessequa-munisipaliteit onlangs saamgespan het om na die gemeenskap uit te reik en die negatiewe persepsies wat rondom hulle onstaan te besweer.
Die tema van die uitreikaksie was integrasie en die plaaslike verkeersdepartement en polisie tesame met die ambulansdienste, die ACVV, brandweerdienste, skutmeester en sport- en jeugontwikkeling, het op Valentynsdag hande gevat om die dag spesiaal te maak vir die gemeenskap en die boodskap van liefde uit te dra.
Minderbevoorregte kleuterskole is genooi om die vreugdevolle dag saam met hulle deur te bring.
Minderbevoorregte kleuterskole is uitgenooi om aan die uitreikaksie deel te neem. Fotos: Heinrich Fortuin
Esmé het aan Suid-Kaap Forum gesê almal het ingekoop om die dag spesiaal te maak vir die kleuters waar hulle op 'n speel-speel manier die kinders wou opvoed en ook wys wie en wat die wetstoepassers en nooddienste is en wat hulle aan die gemeenskap bied.
"Ons wou die boodskap by die kleintjies tuisbring dat hulle nie vir ons bang moet wees nie. Ons is hier om julle te help."
Elke kleuter is bederf met 'n pakkie lekkergoed en daarna was dit heeltyd speeltyd op die springkasteel. Die dogtertjies se naels is behandel en die seuns se gesiggies is geverf. Dit was alles deel van ons liefdesuitreik, sê Esmé.
Dié uitreikaksie is een van vele van vanjaar aangepak gaan word om na die gemeenskappe uit te reik.
Lede van die plaaslike polisie was ook betrokke by die dag.
Westoepassers en nooddienspersoneel van Riversdal was byderhand om aan die kleuters te wys wat hul rolle in die gemeenskap is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’