STILBAAI NUUS - Die afgelope naweek toe 'n egpaar amper in die riviermond op Stilbaai verdrink het, maak 'n program soos dié wat Caville Abrahams aanbied, uiters noodsaaklik.
Abrahams, provinsiale verdrinkingvoorkomingsspanleier in die Wes-Kaap van die NSRI, in samewerking met Hessequa-munisipaliteit het op 4 Maart met 'n Survival Swimming-program in die Hessequa-streek begin.
“Die program vind elke Saterdagoggend vanaf 09:00 tot 12:30 plaas en is gratis,” sê Abrahams.
“Die doel is om kinders wat geen swemervaring het, of glad nie kan swem nie, te leer om hulle self te help wanneer hulle in gevaar naby of in die water is. Dit is ook daarop gemik om kinders gemaklik te maak wanneer hul naby water is,” verduidelik hy.
Indien jy by hierdie projek betrokke wil raak en as vrywilliger wil help, epos Abrahams by caville@searescue.org.za of besoek www.nsri.org.za/water.safety/survival-swimming vir verdere inligting.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'