Gallery Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Twee lede van Heidelberg-polisie het 'n noue ontkoming gehad toe hul polisievoertuig in 'n fratsongeluk met 'n karavaan betrokke was.
Die voorval het Woensdag, 14 April net na 15:00 gebeur terwyl die hulle sowat 5km buite Heidelberg, rigting Riversdal op die N2 op patrollie was.
Volgens ao Alroy Windvogel, plaaslike kommunikasiebeampte was die lede, sers Arthur Rowe en konst Gurshwin Hartnick binne die noodbaan en het redelik stadig gery. 'n Trok van die Garden Route-distriksmunisipaliteit het van agter af aangekom toe die karavaan wat hy gesleep het blykbaar losgeruk, verby die trok geskiet en agter teen die polisiewa gebots het.
Foto's: Heidelberg polisielede in fratsongeluk
Kyk 'n video hieronder:
Albei lede is op die toneel deur ambulanspersoneel behandel en na Riversdal-hospitaal vervoer waar hulle vir ligte beserings behandel is. Hartnick is dieselfde aand ontslaan.
Rowe, wat beserings aan sy nek opgedoen het, het in die hospitaal oornag en is die volgende dag na behandeling ontslaan.
Die bestuurder van die trok was ongedeerd. Die pad is binne 'n uur weer oopgestel na die een baan gesluit was. Windvogel het bevestig dat daar 'n klag van nalatige en/of roekelose bestuur ondersoek word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'