Update
RIVERSDAL NUUS - Gewoonlik beteken 'n polisievoertuig moeilikheid, maar nie in hierdie geval nie.
Toe die voertuig Vrydagoggend in 'n nat Aloeridge aankom, was dit met 'n liefdesgeskenk.
Konst. Venia Daries, polisiewoordvoerder, het in Februarie vanjaar 'n projek van stapel gestuur wat bydraes van die publiek insamel met die doel om dit aan mense uit te deel wat nie weet waar die volgende maaltyd vandaan kom nie.
Die eerste twee kospakkies is Vrydag 7 Junie, in pas met nasionale kinderbeskermingsweek, by twee huishoudings afgelewer. Die ontvangers is deur Kinderwelsyn en die ACVV identifiseer. Kindersorg werk in Aloeridge, Môrestond, Beverley Hills, Melrose Place, Kwanokuthula, Soetmelksrivier en Toelankie. Sers. Hans Busch is sektorhoof in die gebied. Die ACVV werk in Riverville en op die naburige plase.
Die eerste ontvanger was die fisiek gestremde, bedlêende Nolene Esau (24). Nolene en haar vierjarige seuntjie Justin woon by haar ouma en oupa, Hester en Koos Fransies. Magda Kamfer van Kindersorg het saamgegaan toe die kospakkie afgelewer is.
Die tweede kospakkie is by Shirley Philander in Riverville afgegee. Philander, wat die Little Explorers-kleuterskool bedryf en wat reeds 'n kind in pleegsorg het, het onlangs nog 'n verwaarloosde sussie (6) en boetie (3) onder haar vlerk geneem. "Die kospakkie is goud werd want die toelaag vir pleegsorg is nog nie uitbetaal nie," sê sy. Livvy Paulsen van die ACVV het saamgegaan.
Die kospakkies met 'n waarde van sowat R250 sluit meel, suiker, olie, vis, konfyt, grondboontjiebotter, droë bone, soppoeier en blikkieskos in en is skenkings van mense van elders. "Ons mag nie geld ontvang nie, maar die publiek kan enige nie-bederfbare voedsel en kinderklere by die polisiekantoor aflewer," verduidelik Daries. Kontak haar by 028 713 8500 of 078 713 8567.
Magda Kamfer van Kindersorg, sers. Hans Busch, sektorbestuurder, konst. Venia Daries en Nolene Esau. Foto's: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Polisie lewer kospakkies af
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'