STILBAAI NUUS - 'n Nuwe kontrolekamer en addisionele kantore gaan beslis die plaaslike polisie se hand sterk en hul taak om misdaad te bekamp vergemaklik.
Só het kapt. Johan van Tonder, stasiebevelvoerder van Stilbaai-polisie gesê toe die opgegradeerde gebou aan hulle oorhandig is.
Willem Doman, ondervoorsitter van Stilbaai-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het al die aanwesiges welkom geheet by dié amptelike oorhandiging, in besonder die kontrolekamer, en gesê dat hy uitsien na hul volgehoue samewerking met Stilbaai-polisie en Hessequa-munisipaliteit.
Stilbaai-polisie huur die gebou waarin hulle gehuisves word al vir die afgelope
40 jaar van die munisipaliteit en hulle het 'n geweldige tekort aan kantoorruimte. Van Tonder het dus die vorige munisipale bestuurder, Johan Jacobs, genader om te help met die opgradering van die bouvallige afdakke agter die gebouekompleks.
Van Tonder sê dat hulle nog al die jare 'n goeie verhouding met die munisipaliteit gehad het en hulle voel soos 'n verlengstuk daarvan omdat hulle in hul geboue sit. Hy het die munisipaliteit bedank omdat hulle altyd agteroor buig om die polisie te help.
Al hierdie verbeteringe het dan ook net op die regte tyd gekom aangesien hulle gesoek het na 'n kontrolekamer vir die 45 sekerheidskameras wat oral in en om Stilbaai opgerig is.
Hy wou graag hierdie kantoor by die polisiestasie hê en daarom word een van die kantore beskikbaar gestel vir die GPF, wat die monitoring sal doen.
Hy sê ook dat hulle 'n trotse geskiedenis van misdaadvoorkoming het in die hele gebied ten spyte van voertuig- en personeeltekorte en dat hierdie kontrolekamer en addisionele kantore hulle nog meer suksesvol gaan maak.
Van Tonder het ook die munisipaliteit bedank vir wat hulle vir die gemeenskap doen.
Die onderburgemeester, Marthinus van den Berg, sê dat die munisipale raad 'n begrotingsinset deur Stilbaai-polisie en die GPF goedgekeur het en 'n bedrag van R195 062,41 is daarvoor bewillig. Daar is 50 vierkante meter toegevoeg tot die area deur dié opgradering en vier nuwe kantore is nou beskikbaar vir gebruik.
Hy sê verder met betrekking tot die huidige stand van sake in die land is Stilbaai-polisie se verbintenis tot effektiewe dienslewering aan die gemeenskap en hulle vinnige en flinke optredes iets wat eintlik as merkwaardig beskou kan word. "Ons integrale rol om ons gemeenskap veilig te hou word erken deur die munisipale raad en dis hulle oogmerk om te help waar hulle kan om die polisie te ondersteun in dit wat hulle nodig het om 'n effektiewe polisiediens te wees en bly. Alleen kan ons nie veel doen nie, maar wanneer ons saamstaan kan ons die onmoontlike bereik."
Van den Berg sê verder dat dit met trots en waardering is dat hy dankie sê vir die plaaslike polisielede vir hul onbaatsugtige diens en die waardes wat hulle nie net in die polisiestasie op 'n plakkaat vertoon nie, maar wat ook in hul werk duidelik sigbaar is. Hy sê dat hy hoop die nuwe toevoeging tot die perseel hul hande sal versterk en goeie resultate tot gevolg sal hê.
Archie van Dyk, bestuurslid van die GPF en die man in beheer van die monitoring, het op sy beurt die munisipaliteit bedank vir wat hulle gedoen het om die kontrolekamer moontlik te maak. Hy het ook vir kapt. Van Tonder bedank wat, ten spyte van die feit dat hy spasie nodig het, bereid was om die kantoor beskikbaar te stel.
Daar word nog drie kameras in die vooruitsig gestel, maar dis is 'n duur proses en indien enigiemand belangstel om betrokke te raak kan hulle Archie van Dyk bel by 082 416 7279.
'n Nuwe kontrolekamer en addisionele kantoorruimte is onlangs aan Stilbaai-polisie oorhandig. By dié geleentheid was van links: Deon Lewis-Michael en Albert Kleynhans (Hessequa-munisipaliteit), Ben Smith (raadslid), Archie van Dyk (voorsitter: Stilbaai Sekuriteitsnetwerk), kapt. Johan van Tonder (stasiebevelvoerder: Stilbaai-polisie), Willem Doman (ondervoorsitter: Stilbaai GPF), raadslid Elias Dayima en Marthinus van den Berg (onderburgemeester). Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'