Update
STILBAAI NUUS - 'n Egpaar van Parkstraat is baie bekommerd nadat die bome en plante in hul tuin wat die naaste aan die straat is, die afgelope paar maande raaiselagtig begin vrek het.
'n Groot koejawelboom, asook 'n gevestigde grenadellaplant wat albei al vrugte gedra het, moes onder andere met wortel en tak uitgehaal word nadat eers die blare doodgegaan en die vrugte glad nie verder ontwikkel het nie.
Daar is steeds een koejawelboom in die tuin, maar dis duidelik dat die blare en vrugte aan die straat se kant beskadig is, terwyl die ander blare ook van die buitekant af bruin verkleur en dit net 'n kwessie van tyd is voor daar ook niks van oor is nie.
'n Kinkel in die kabel is die feit dat hul huis in dieselfde straat is waar die katte net meer as 'n jaar gelede vergiftig is en dat hul bome net daarna begin vrek het. Hulle het kundiges se raad ingewin en die aanduidings is dat hul bome en plante heel moontlik ook vergiftig word.
Hulle deel graag van die koejawels uit en is bekommerd dat indien dit wel gif is, die vrugte óók vergiftig is.
Hierdie situasie veroorsaak dat hulle nou in onsekerheid leef en selfs wantrouig teenoor hul medemens is.
Hulle hou die situasie dop voor hulle daadwerklike aksie neem.
Lees 'n vorige artikel: Inwoners bekommerd oor plante wat vrek
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'