Update
HEIDELBERG NUUS - Die flink optrede van 'n lid van die Goukou-plaaswag het daartoe gelei dat 'n vermeende bakkiedief gou vasgetrek is.
"Een van ons lede het eerste die inligting oor 'n bakkie wat sonder toestemming geneem is bekom," sê Johan Crous.
Die diefstal is in Dieprivier in Kaapstad aangemeld en dié lid het dit op die License Plate Recognition (LPR)-kameras raakgesien.
"Die inligting is by Goukou-buurtwaglede op Heidelberg aangemeld en die plaaswag se beheerkamer kon die voertuig se vordering op die N2 volg."
"Die LPR-kameras in Riviersonderend en Swellendam het die voertuig afgeneem en die plaaswag het die voertuig op die heuwel buite Heidelberg onderskep."
Die verdagte, Abdul Adams (48) is deur sersante Daniël Moos en Carlet September, bygestaan deur ao. Ryno Jacobs van Riversdal-polisie, in hegtenis geneem, berig Clive Pretorius, Suid-Kaap Forum se korrespondent.
Hy het Maandag 29 Julie in die Heidelberg-landdroshof op 'n aanklag van besit van gesteelde goedere verskyn. Die saak is uitgestel tot 26 Augustus. Hy bly in aanhouding.
Lees 'n vorige artikel hier: Plaaswag help vermeende bakkiedief vastrek
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'