Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS - Ongeveer 300 mense het Sondag, 25 Oktober aan "Swart Maandag", 'n bewusmakingsveldtog en om vreedsame protes teen plaasaanvalle en -moorde aan te teken, vanaf Skulpiesbaai op Stilbaai deelgeneem.
Die protesgangers was nie slegs van Stilbaai nie, maar ook van Heidelberg, Albertinia, Mosselbaai en selfs George.
Die verrigtinge het onder polisiebegeleiding na Droëvlakte beweeg, waar ds Vian Louw van die NG Kerk, Stilbaai 'n gebed gedoen het.
Fotogalery: Hessequa Swart Maandag optog
Elizma de Jager en Anthea Nell was die sameroepers. Volgens De Jager het hulle nie regtig verwag dat soveel mense aan die optog sou deelneem nie, maar dat dit 'n bewys is dat die land se inwoners genoeg gehad het van al die sinnelose en wrede plaasmoorde. "Ons wil hiermee 'n duidelike boodskap aan ons regering oordra dat genoeg, genoeg is. Iets moet gedoen word om 'n einde hieraan te maak."
Nell het dit beaam en gesê dat almal moeg is van wat in die land aangaan. "Die enigste manier hoe ons hierdie boodskap nie net landswyd nie, maar wêreldwyd kan uitdra, is deur sulke samekomste. Ons hoop werklik dat dit 'n verskil sal maak."
Hessequa-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het gesê ons moet opstaan vir ons boere en dat hy glo dat die protesoptog 'n verskil sal maak. "Ons kan nie toelaat dat ons boere so vermoor word nie.
Hulle is verantwoordelik vir ons voedselsekuriteit en sonder hulle kan ons niks doen nie," was sy woorde aan Suid-Kaap Forum kort voor die optog begin het. "Ek is vandag hier om die boere te ondersteun en vir hulle te sê ek staan saam met julle en genoeg is genoeg."
Een van die optoggangers, Johan Wessels het gesê dat boere in vrees lewe en dat dit nie so moet wees nie. 'n Ander optogganger, Theresa Blom van Blombos het haar mening kort en kragtig met 'n groot plakkaat op haar voertuig gelug: Gatvol!
Kyk 2 video's hieronder:
Hierdie groep het Sondag, 25 Oktober vanaf Albertinia, Mosselbaai en George aan ‘n vreedsame optog na Droëvlakte buite Stilbaai deelgeneem, as deel van die ‘Swart Maandag’ bewusmakingsveldtog en om protes teen plaasaanvalle en -moorde aan te teken. Nog ’n groep van ongeveer 300 het vanaf Skulpiesbaai Natuurreservaat onder polisiebegeleiding na Droëvlakte beweeg waar hulle by die res aangesluit het. Foto: Mariska Visagie.
Motorfietsryers, selfs so ver as van George af was ook teenwoordig.
Theresa Blom wys hoe sy oor die plaasmoorde voel.
Francois Kasselman, Jo-lynn Nell, Elizma de Jager, Betsie Kasselman, Anthea Nell, Bradley Whitecross en Pieter Kleinhans jnr. Foto’s: Wilma Adamson
Baie van die optoggangers het met kruise, swart vlae en plakkate opgedaag.
Vorige artikel: Genoeg is genoeg sê optoggangers
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'