SLANGRIVIER NUUS - Cheryl Persensie het onlangs 'n top pos by een van die wêreld se grootste hernubare energiemaatskappye aanvaar.
Persensie het in haarself geglo en sy is oortuig daarvan dat harde werk en uithouvermoë haar gebring het waar sy vandag is.
Haar boodskap aan die jeug is: "Moet nooit ophou om in jouself te glo nie. Werk altyd hard, want harde werk word beloon!"
Sy is 'n voormalige leerder van Kairos Senior Sekondêre skool waar sy graad 7 tot 9 voltooi het. Haar matriekjaar, sowel as graad 10 en 11 het sy aan Gerrit du Plessis Senior Sekondêr voltooi.
Slegs 'n klein groepie het in 2006 'n beurs by die Stad Kaapstad ontvang en was sy deel van dié groepie uitgesoektes. Dit het die weg vir haar professionele loopbaan in ekonomiese ontwikkeling en beplanning gebaan, waar sy as assistent professionele offisier: Toerisme ontwikkeling by die Stad Kaapstad gewerk het.
In haar kort loopbaan het sy hoë poste beklee waarin sy uitgeblink het. Dit sluit assistent direkteur: Ekonomiese beleid en strategie navorser by die Wes-Kaapse departement van die Premier in, sowel as senior landelike en ekonomiese ontwikkelingsbeampte by Stellenbosch-munisipaliteit. Sy was vir 'n kort rukkie by Mosselbaai-munisipaliteit in die department ekonomiese ontwikkeling betrokke.
Sy het die afgelope drie jaar die pos as programbestuurder: Ekonomiese ontwikkeling en beplanning by die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsassosiasie beklee. Hier het sy die munisipaliteite direk bygestaan met hoë vlak strategiese advies rondom ekonomiese en landelike ontwikkeling en beplanning.
Haar kwalifikasies sluit in nasionale diploma en B-graad: Toerisme ontwikkeling (KPUT: 2006-2009); gevorderde sertifikaat: Plaaslike en provinsiale regeringswetgewing (UNISA: 2010); Bphil: Volhoubare ontwikkeling, beplanning en bestuur (Stellenbosch Universiteit: 2011).
Sy is in die proses om haar meestersgraad in besigheidsadministrasie by KPUT te voltooi en sal in Maart vanjaar gradueer.
'Ons bring jou die nuuste Slangrivier, Hessequa nuus'