STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Skryfkring het Donderdag 12 Maart gasheer gespeel vir dr. Pieter Mulder, voormalige parlementslid en leier van die Vryheidfront +, tydens die Stilbaai-bekendstelling van sy boek Parlementpraatjies.
Dr. Mulder ken die parlement van binne en buite soos die palm van sy hand, aangesien hy vir 30 jaar 'n parlementslid was en onder sewe presidente gedien het. Dit stel hom in staat om hierdie lekkerleesboek met gesag te skryf.
Sy sin vir humor skyn deur terwyl hy ware verhale en amusante voorvalle uit die parlementêre lewe deel.
Waar kom die unieke name vir ampsdraers soos speaker en hoofsweep vandaan? Wat presies is die ampstaf en ampswag?
Parlementpraatjies beantwoord al hierdie vrae - en nog baie meer op 'n boeiende en dikwels vermaaklike manier. Die hoofstukke is doelbewus lig en humoristies geskryf en is gevul met ware staaltjies oor amusante situasies en unieke parlementêre persoonlikhede.
Die boek is beskikbaar by Tabeel in Stilbaai of kan direk bestel word by Naledi Uitgewers.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’