SLANGRIVIER NUUS - ’n Jongman is agter tralies nadat sy tweejarige seun tragies gesterf het toe hy beheer oor die voertuig verloor het, die pad verlaat het en teen ’n wal op sy sy te lande gekom het.
Volgens sers. Keeno Fredericks, plaaslike mediabeampte, is die ongeluk net ná 01:00 Sondagoggend aangemeld, waartydens die kleuter aan sy beserings op die toneel dood verklaar is.
Fredericks het benadruk dat daar drie jongmanne in die voertuig was, waarvan die bestuurder van die Toyota Hilux-bakkie die oorledene se pa is.
Een van die insittendes, glo ’n voormalige matrikulant wat verlede jaar aan Kairos SSS gematrikuleer het, is met ernstige kopbeserings in die hospitaal in George opgeneem.
Volgens Fredericks word klagtes van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, asook bestuur onder die invloed van alkohol teen die 22-jarige jongman ondersoek.
Hy sal Dinsdag 28 April in die plaaslike landdroshof op die drie aanklagte verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’