HESSEQUA NUUS - 'n Nuwe neiging wat blykbaar op sosiale media ontstaan het, het kenners bekommerd en ouers is onbewus daarvan.
Chroming, soos dit genoem word, is nie nuut nie. Dit is die algemene term om die inaseming van chemikalieë of deodorantdampe as ontspanningsmiddels te beskryf vir die doel om hoog te word vir 'n kort tydperk.
Alhoewel mense van alle ouderdomme besig is hiermee, gebeur dit die meeste onder jongmense en tieners. Een rede hiervoor is dat baie van die chemikalieë wat gebruik word, as oor-die-toonbank huishoudelike goedere gekoop kan word.
Dit het vroeër vanjaar opslae gemaak toe 'n 13-jarige meisie in die buiteland gesterf het nadat sy dampe uit 'n deodorantblikkie doelbewus ingeasem het.
Daar is geen eenvoudige verduideliking waarom jongmense hiermee besig is nie. Tieners doen dit moontlik omdat hulle opstandig is, waaghalsig voel of dit voldoen aan 'n aandagsoekende behoefte.
Hulle kan dit doen as 'n manier om 'n lae selfbeeld, 'n gebrek aan selfvertroue te oorkom of om emosionele pyn te bedek en verligting te vind. Hulle kan ook verveeld wees of nie veel hê om hul tyd in beslag te neem nie. Hulle is dalk bloot nuuskierig of wil by 'n groep inpas.
Watter effek het dit op die brein?
Swaar gebruik oor 'n lang tyd is bekend om permanente breinskade te veroorsaak. Sommige langtermyn-gebruikers ly ook aan nier-, lewer- en senuweeskade.
Wat gebeur met die liggaam?
Die waarskynlikheid en skade wat kan voortspruit hieruit hang van baie faktore af. Soos onder andere die hoeveelheid wat ingeasem word, geslag, ouderdom, liggaamsgewig, jou verdraagsaamheid, geestelike toestand en watter ander dwelms jy ingeneem het.
Sommige van die onmiddellike gevolge van chroming kan die volgende insluit:
- Moegheid of lomerigheid
- Braking
- Duiseligheid of verwarring
- Voel meer ontspanne of angstig
- Om koördinasie te verloor en lomp te wees
- Verlies aan inhibisie (neem groter risiko's)
- Geluide in jou ore
- Slepende spraak
- Hoes of nies
- Oë wat rooi of waterig is
- Lopende of bloeiende neus
Hoekom is dit skadelik?
Daar is geen hoeveelheid wat veilig is nie. Hoe meer jy neem en hoe langer jy dit doen, hoe groter is die risiko.
Probleme as gevolg van chroming of enige misbruik van inhaleermiddels hou risiko's in, insluitend:
- Besering of dood weens val, padongelukke, verdrinking, ensovoorts
- Groter kans om by geweld betrokke te raak
- Hallusinasies, psigotiese episodes of selfs paranoia
- Brandwonde van hoogs vlambare chemikalieë
- Om bewusteloos te val of in 'n koma te gaan
- Borspyne of ongewone hartklop
- Pneumonitis (ontsteking van die long)
- Verstikking
- Nierskade
- Verhoogde kankerrisiko indien 'n produk met benseen gebruik word
- Brandwonde aan die gesig (baie produkte is vlambaar)
- Dood
Is chroming verslawend?
Chroming kan verslawend raak, net soos baie ander dwelms.
- Paar algemene tekens van verslawing:
- Jy moet snuif of chroom om deur die dag te kom of net om "normaal te voel"
- Om dit nie te doen nie, laat jou siek of duiselig voel
- Jy voel neerslagtig, angstig of kwaad wanneer jy nie chroom nie.
- Jy bewe of hande wat bewe.
- Jy kry 'n omgekrapte maag of braak.
Kenners wil hê ouers moet die tekens ken en hoe om met hul kinders daaroor te praat. Om kinders en tieners oor chroming en die risiko's daarvan in te lig, kan hulle leer om die belangrikheid van hul welstand te verstaan en beter keuses te maak.
Soek onmiddellik professionele hulp indien jy vermoed dat jou tiener besig is met enige vorm van dwelms. Dit kan dalk sy of haar lewe red.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'