STILBAAI NUUS - 'n Oud-WP-rugbyspeler, Bob Bolus, het besluit om sy aftreejare te gebruik om 'n verskil in kinders met gesplete verhemeltes se lewens te maak omdat dit hom na aan die hart lê.
Bolus het 'n staptog onderneem vanaf Mosselbaai op 26 Oktober en stap kuslangs tot by Pringlebaai, wat hy hoop om na ongeveer 500 km op 26 November te bereik. Hy het op 31 Oktober by Stilbaai aangedoen en op 1 November verder gestap.
Die wêreldbekende argeoloog, dr. Jan de Vynck het 'n deel van die roete saam met hom gestap en Bob met sy vertellinge van die argeologiese vondse in die Geelkrans-omgewing gefassineer.
Vanaf Stilbaai tot Jongensfontein het Malcolm Harris, 'n universiteitsvriend van Stilbaai saam met hom gestap.
Terwyl hulle ou herinneringe opgediep het, het hulle terselfdertyd die geleentheid gebruik om die kuslyn skoon te maak met die geel "coastal cleanup" sakke wat dr. Gerrit Mars vir hulle gegee het met hul vertrek.
By Jongensfontein aangekom het John Wills, voorsitter van die Jongensfontein- inwonersvereniging, die sakke ontvang om aan Hessequa se vullisverwyderaars te oorhandig.
Al die geld wat Bolus insamel gaan help om 'n glimlag op 'n kindergesiggie te sit. Dit kos ongeveer R5 800 per kind om 'n gesplete verhemelte reg te maak.
Belangstellendes wat 'n donasie wil gee, kyk hier.
Bob Bolus en Malcolm Harris arriveer in Jongensfontein. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'