STILBAAI NUUS - Koos Grobbelaar is Maandag 11 Julie in George-hospitaal oorlede weens limfatiese kanker, spesifiek Hodgkin se siekte.
Grobbelaar het 'n meestersgraad in arbeidsreg gehad en het tot onlangs nog konsultasiewerk hieroor in die Hessequa-distrik gedoen, maar hy het ook as skrywer ontpop.
Hy het begin skryf op 'n laat stadium van sy lewe en sy eerste boek getiteld, Die tweede aanspraak, is in 2019 deur Naledi Uitgewers gepubliseer. Die manuskrip vir sy tweede boek is gereed en sal nadoods uitgereik word.
Volgens die familie was hy 'n kleurvolle karakter in Stilbaai waar hy diep spore getrap en klippe uit mense se pad gerol het. Hy was lief vir kosmaak, stap, lees en skryf en tydens sy laaste jare het hy geleef vir ervarings, in plaas van wêreldse besittings.
Sy drie seuns, Jaco, Marius en Wian, getuig dat hy die beste pa was wat enige kind voor kon gevra het.
Rolene Farre, 'n baie goeie vriendin in wie se arms hy gesterf het, sê dat hy hoogs intelligent was en bitter belese. Hy het 'n groot ego gehad en was propvol selfvertroue. Hy het hof toe gegaan om te ontspan en het baie keer gratis werk vir mense gedoen.
Volgens Rolene was sy woorde die dag voor sy dood "no regrets." Hy was nie 'n bankiemens nie en sy as gaan gestrooi word by Skulpiesbaai, waar hy gereeld alikreukels uitgehaal het.
Volgens haar was sy humorsin en lag van sy beste eienskappe. Hy was ontsettend trots op sy drie seuns en het gesmelt by sy kleinkinders.
Buiten sy seuns word Grobbelaar oorleef deur drie broers, 'n suster en drie kleinkinders.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'