Op enkele uitsonderings na is die middagete deur die kinders, kleinkinders, een agter-kleinkind, familie en vriende in die Albertinia Hotel gevier. Die ete was as 'n verrassingspartytjie aangebied en was seker een van die bes bewaarde geheime vir haar. Die reëlings om die gastelys saam te stel en uitnodigings uit te stuur, was deur haar dogter Lizbe vanuit Belville behartig en genooides was versoek om niks van die onthaal aan Mattie te rep nie!
Jan moes sy ma Saterdag na die hotel neem sonder dat sy onraad vermoed en moes maar mooi broodjies bak om haar te oortuig om mooi aan te trek en saam met hom te ry. Nadat hy haar na die huis geneem het waar sy voor haar huwelik gebly het, is hulle na die hotel en was sy heeltemal oorweldig om al die mense te sien wat haar ingewag het.
Lizbe het die verwelkoming en tafelgebed gedoen, terwyl die oudste kleinkind, Chantel die gaste laat skaterlag het, maar ook 'n traan laat wegpik het met die mooi herinnerings wat sy en haar broer, niggies en neefs van hul ouma koester. Mattie se enigste agter-kleinkind, Delani (2 jaar) het aan haar 'n ruiker en skouerruiker gegee, terwyl Jurgens 'n heildronk op haar ingestel het en Kobus Victor, 'n huisvriend het hulle bedank vir die voorreg om dié heuglike dag saam met hulle te kon deel.
Mattie was 'n nooi Cronjé en boorling van Albertinia. Sy is op 8 Januarie 1955 in die plaaslike NG kerk met Jan Pfaff getroud, waarna hulle op die familieplaas Jakkalsfontein gaan bly en geboer het. Uit die huwelik is drie seuns en twee dogters gebore; Jan, Magdalena, Lizbe, Danie en Jurgens. Gedurende 2003 het die egpaar na Tritoniapark verhuis en boer Danie en sy eggenote nou op die plaas.

Mattie met haar kleinkinders en een agter-kleinkind. Van links is Jugene Pfaff, Mari Fourie met agter-kleinkind Delani, Henno en Nandie Fourie, Marnili, ouma Mattie, Chantel Pfaff, Lizmari Erasmus, Jergu Pfaff en Cobus Erasmus.