Mnr. Basie Muller van Rouxstraat wat reg langs die kanaal woon, het Suid-Kaap FORUM gekontak om sy erf te besoek en self waar te neem wat gebeur het.
Volgens hom loop die rioolpyp blykbaar parallel met die kanaal en het as gevolg van die vloede bo uitgestoot en in die kanaal gevloei. "Dit is die vyfde keer dat dit vanjaar gebeur en ek het dit Vrydag, 15 November weereens met mnr. Johan Jacobs opgeneem," verduidelik Muller.
Hy het aan Jacobs voorgestel dat daar 'n soort 'overflow' aangebring moet word wat die riool sal weglei van die kanaal, maar dit is klaarblyklik onwettig.
Hy het eindelik vir die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl. Emor Nel geskakel, waarna sy die verantwoordelike persone gevra het om na die erf uit te gaan, wat gedoen was. Hoewel Jacobs nie teenwoordig was nie, bedank hy vir Nel vir haar vinnige en professionele optrede. 'n Span werkers het die volgende oggend uitgekom om die riool in sy erf op te ruim, maar Muller sê dit los steeds nie die probleem op nie. "Die enigste oplossing is dat die rioolstelsel en stormwaterpype opgegradeer moet word. Intussen duur die ongesonde toestand voort, want buiten die vlieë en insekte wat met die reuk gelok word, speel kinders in die kanaal en kan hulle allerlei siektes opdoen."
Munisipale kommentaar
Susan Vosloo, munisipale media woordvoerder: "In Augustus vroeër vanjaar was daar berig oor stormwater wat die rioolstelsel indring weens ouderdom en die proksimiteit van die hoof riool uitval aan die stormwaterkanaal. Die MIG (Municipal Infrastructure Grant)-projek waarna verwys was, was intussen goedgekeur en die implementering van die projek sal tydens die eerskomende begrotings bosberaad wat vanaf 27 tot 29 November 2013 plaasvind, bepaal word.
Die voorval waarna verwys word, geniet deurlopend aandag en sal oorleg gepleeg word met ons omgewings afdeling en die departement van waterwese om te verseker dat alle wetlike verpligtinge nagekom word."
Die inhoud van die twee houers is beide uit die kanaal geneem deur mnr. Muller. Links is bloedwater en regs rioolwater.