Die langste aaneenlopende teetafel in Stilbaai van 104.7 meter het ook aandag getrek en natuurlik die toon geset vir toekomstige tafels! Stilbaai Badisa se missie is om in navolging van Christus, mense en gemeenskappe in nood te help. Badisa is op verskeie maniere betrokke in die Stilbaai en Melkhoutfontein gemeenskap.
Badisa se doen en late in die gemeenskap:
*Die Baaija-vir-Biekie winkel wat bruikbare tweedehandse klerasie, breekgoed, linne ensovoorts verkoop teen billike pryse om sodoende ander projekte van Badisa te finansier vind groot byval. Items word ook op aanbeveling van die maatskaplike werker gratis aan persone verskaf.
* Sakkie-vir-Pakkie is 'n inisiatief van die 'OM-G-groep' onder leiding van Hans Botes. Die projek word gedryf vanuit die NG-kerk, waar lidmate elke Sondag die geleentheid kry om 'n bydrae te maak tot hierdie projek. Al die sakkies met kruideniersware wat ontvang word, word saamgegooi om kospakkies te pak, wat dan deur Badisa Stilbaai versprei word. Hierdie projek gaan van krag tot krag en is daar in die 2011/2012 boekjaar 264 kos-pakkies ter waarde van R110 740 uitgedeel.
* Ouma Lena se huis bied sedert Februarie 2009 'n naskoolsentrum, elke middag van die week waar kinders hulp ontvang met hul skoolwerk en 'n verskeidenheid van aktiwiteite soos kuns, ballet, sang en rekenaarklasse. Die kinders kry verder elke dag 'n maaltyd voor hulle huis toe gaan.
* Elke Woensdagoggend vergader vrouens van Melkhoutfontein by Ouma Lena se huis en word verskeie opvoedkundige praatjies gehou. Daar word lekker gesels met 'n koppie tee oor gemeenskaplike probleme en verskeie handwerkprojekte word aangepak. Daar is gewoonlik tussen tien tot 15 vrouens wat dié oggende bywoon.
Badisa Stilbaai was bevoorreg om gedurende 2011/2012 'n finansiële toekenning te ontvang van Global Funds en word hierdie fondse uitsluitlik aangewend vir voedselsekuriteit aan persone met HIV/Aids en tuberkulose. Daar word maandeliks tien kospakkies aan gesinne uitgedeel wat aan hierdie kriteria voldoen. Die sopkombuis by Ouma Lena se huis voorsien vyf dae per week aan 30 kinders 'n maaltyd.
Die plaaslike maatskaplike werker, me. Cornelia Gilomee behartig 'n groep met agt tienermeisies en verskeie lewenskwessies word aangespreek soos verhoudings, selfbeeld en persoonlikheidtipes.
Elke tweede Maandagaand word ouerleidingsgroepe deur die maatskaplike wer-ker aangebied en word verskeie aspekte aangespreek soos die regte van die kind, spel en kreatiwiteit, basiese gesondheid ensovoorts.
* Die SOS-groep bestaan tans uit vyf SOS-vrywilligers wat trauma-slagoffers bystaan. Daar word maandeliks vergader vir moontlike ontlonting asook die opskerping van protokol. Stilbaai Polisie is ook nou betrokke by die SOS-groep.
Badisa sorg dat daar elke jaar bewusma-king is rondom Nasionale Kinderbeskermingsweek, 16 dae van aktivisme, Nasionale Vrouedag, Gesinsdag, alkoholbewusmaking, die week vir ouer persone, vakansieprogramme vir kinders asook naweekpret.

Dames van Melkhoutfontein het ook die oggend bygewoon.Die dames was van die modelle wat deelgeneem het aan die modeperade.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS