Die plaaslike Besigheidsforum en die Toerismeforum, in samewerking met Hessequa Munisipaliteit wat hul ondersteun in die inisiatief, het onlangs begin om die ingange na die dorp te verfraai.
'n Groep plaaslike inwoners verbonde aan beide die twee forums, asook munisipale werkers het die ingang by Haigstraat vanaf die N2 verfraai met verskeie plante en bome. Die uitvoerende burgemeester, rdl Emor Nel het ook hand bygesit met die plantery.
Klippe is ook gebruik om die terrein te versier.
Tydens haar kort toespraak het Nel die nagenoeg veertig vrywilligers bedank vir hul deelname.
Sy het die twee forums geloof vir hul inisiatief en bemoedig om steeds saam te werk.
"Ons het mekaar nodig op alle vlakke om die beste vir ons dorpe uit te bring."
Sy het die munisipale werkers geloof vir hul opoffering om van die inisiatief 'n sukses te maak. Ben Dell, plaaslike toerisme voorsitter het genoem dat hulle beoog om toergroepe te reël om die streek, maar veral die dorp te besoek.
Hy het ook die Besigheidsforum bedank vir hul ondersteuning. Volgens hom is dit uit 'n toerisme oogpunt makliker om toeriste na 'n mooi en skoon dorp te bring.
Hy het ook 'n beroep gedoen op die plaaslike inwoners om trots te wees op hul dorp en by te dra om die dorp skoon en netjies te hou.
Hy het afgesluit deur die munisipaliteit en sy werkers onder leiding van Joseph Solomons vir hul onbaatsugtige bydrae in hul vrye tyd te bedank.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

So lyk die ingang nou by Haigstraat ná die opknapping.
ARTIKEL: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
''Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'