Update
STILBAAI NUUS - Die tweede Tuinroete Skills Summit wat Donderdag 7 Februarie in die Stilbaai-Gemeenskapsentrum aangebied is, het die grondslag gelê vir die skep van 'n vaardigheidsmekka in die Tuinroete-streek.
"Die Skills Summit, 'n byeenkoms van instansies en individue wat betrokke is by vaardigheidsopleiding, het ontstaan na die verwoestende brande in Knysna in Junie 2017 en was spesifiek gemik op mense wat hul werk weens die brande verloor het," het dr. Florus Prinsloo van die Wes-Kaapse regering en sameroeper gesê.
Die eerste Skills Summit is in Februarie 2018 gehou met die doel om die kapasiteit van opleidingsinstansies in die Garden Route-distriksmunisipaliteit met sy sewe plaaslike munisipaliteite uit te bou.
"Ons wil hê mense moet in die streek kom vakansie hou, maar ook kom studeer. Soos wat Stellenbosch byvoorbeeld 'n studentedorp is waar die studente ook die ekonomie stimuleer, wil ons hê die Garden Route moet 'n opleidingsmekka word vir diegene wat hier studeer en hier kom bly."
Die belangrikheid van vennootskappe tussen die verskillende opleidingsinstansies is beklemtoon deur Solly Fourie, bestuurder van die Wes-Kaapse regering se ekonomiese ontwikkeling en toerisme departement.
Memory Booysen, uitvoerende burgemeester van die Garden Route-distriksmunisipaliteit en hoofspreker, het gesê R3 miljoen is begroot vir 'n lewensvatbaarheidstudie vir 'n sentrum waar onder meer gefokus sal word op opleiding in brandbestryding en rampbestuur, asook ander vaardighede wat benodig word in plaaslike regering.
Groepbesprekings onder leiding van kundiges in verskillende bedrywe het ingesluit:
• Claude Lambert - landbou en -prosessering
• Rushka Eli - toerisme en filmbedryf
• Paul Hoffmann - olie en gas
• Gill Cullinan - smart cities en tegnologie
• Karl-Heinz Niemand - houtbedryf
• Elsie Potgieter - onderrig en opleiding
Vier van die agt munisipaliteite, naamlik Garden Route, Hessequa, Bitou en Knysna het elk 'n projek van stapel gestuur waarvan die eindresultate tydens die Skills Summit deur middel van 'n interaktiewe aanbieding bekendgestel is. Die ander munisipaliteite sluit George, Oudtshoorn, Kannaland en Mosselbaai in.
Dié projekte het opleiding van werklose individue ingesluit in die gasvryheidsbedryf (Garden Route), entrepreneurskap (Hessequa), opleiding van menseredders (Bitou) en 'n omgewingsgerigte vinnige-reaksiegroep (Knysna). Cheri-Lynn Speelman en Yanela Khweleta van Knysna, wat deelgeneem het aan die Cater Care-opleiding wat deur die Francois Ferreira Akademie aangebied word en befonds word deur Garden Route-distriksmunisipaliteit, is as die wenners aangewys.
Hessequa-munisipaliteit het as gasheer vir die tweede Skills Summit opgetree. "Opleiding van inwoners in ons munisipale gebied, soos vervat in ons geïntegreerde ontwikkelingsplan, is een van ons prioriteite en ons is deurlopend besig met opleiding en bemagtiging van ons jeug," het Johan Jacobs, Hessequa se munisipale bestuurder, gesê.
Lees vorige artikels hier:
Johan Jacobs, Hessequa se munisipale bestuurder, het opgetree as die Skills Summit se voorsitter.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'