RIVERSDAL NUUS - Die oorsaak van die brand wat op 10 November in Sonskynstraat uitgebreek het, kon nog nie vasgestel word nie.
Twee informele woonstrukture is in puin gelê en twee families is haweloos gelaat.
Volgens Hessequa-munisipaliteit het die beheerkamer omstreeks 07:45 'n noodoproep ontvang en onmiddellik 'n brandweervoertuig uitgestuur. Toe hulle daar aankom was 'n huis en twee informele strukture reeds aan die brand. Die huis se mure het gekraak en is onbewoonbaar, terwyl die strukture tot op die grond afgebrand het. Die brandweer het die vuur betyds gekeer voor dit na naburige houthuise versprei het.
Van die inwoners is op die toneel vir ligte brandwonde en rookinaseming behandel. Een is ook hospitaal toe geneem.
Deernishulp
Die munisipaliteit het 'n goedgekeurde nood-/rampfondsbeleid wat hulp verleen aan inwoners wat deur 'n ramp soos die brand getref word. Die R3 000 word nie direk aan hulle uitbetaal nie, maar aan diensverskaffers wanneer 'n faktuur voorgelê word.
Die hulp mag slegs aangewend word vir redelike herstel aan wonings, kos en klere, insluitend skooluniforms en skryfbehoeftes vir leerders, beperkte mediese versorging, die vervanging van identiteits- en geboortesertifikate en verblyfpermitte. Dit mag ook gebruik word vir lewensmiddele, begrafnisse, vervoer en lugtyd.
Veiligheidswenke
Die brandweerdienste versoek dat die gemeenskap ag slaan op die volgende veiligheidswenke waar informele strukture ter sprake is:
- Informele strukture moenie te na aan mekaar gebou word nie;
- Alle los planke en hout tussen die strukture moet verwyder word;
- Inwoners moenie in die houtstrukture vuur maak nie;
- Moenie 'n oop vlam sonder toesig los nie;
Noodgevalle
Kontak die volgende nommers in geval van nood:
Ongelukke en brande 24 uur per dag: 028 713 2222 of 084 014 1828
Honde en ander munisipale klagtes: 028 713 7917
Inwoners word versoek om nie die polisie of ander instansies of persone te kontak nie, want dit vertraag die brandweerdienste se reaksietyd.
Lees 'n vorige berig: Twee gesinne haweloos na brand
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'