Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Twee gesinne het die afgelope naweek ter nouernood ontkom toe twee sinkstrukture in die agterplaas van 'n huis in Sonskynstraat, Môrestond uitgebrand het.
Die brand het omstreeks 08:00 Sondag 10 November ontstaan.
"Ek het gevoel my voete word warm," vertel Sheldino (Dino) Johnson (11), wat die naweek by sy ouma Lisbon Johnson gekuier het.
"Toe ek my oë oopmaak, sien ek die bed is aan die brand. Ek het uitgehardloop en vir my ouma geskree die kamer is aan die brand."
Lisbon, wat besig was om papiere in die jaart op te tel, het dadelik 'n emmer gegryp en water by die buitekraan getap waarmee sy die vlamme probeer blus het. "Ek het om hulp geroep en die res van die familie en die bure het kom help."
Ten spyte van die moedige poging, het die brand na die ander sinkstruktuur 'n paar meter weg op dieselfde perseel versprei.
Foto's: Brand laat gesinne haweloos
Gladwell Flaza, die bestuurder van Sonskyn Mobile, 'n spazawinkel reg langs die uitgebrande struktuur, het gesê hy was baie bekommerd oor sy winkel en die klomp voorraad. "Die winkel was toe al oop en 'n klant wat ingekom het, het gesê sy het iemand om hulp hoor roep. Ek het die brandweer gebel," het hy gesê.
Lisbon se dogter Bonese en haar man Ebrahim Kammies, asook haar kleindogter Franceska (15), Dino se niggie, het in die kamer langs die huis gewoon waar Dino geslaap het. Jessica Farland, haar baba Jeswayne (twee maande), haar pa Karel en broer Heinrich het in die ander struktuur gewoon.
Almal het alles verloor. Van die sinkstrukture is niks oor nie - 'n maatskappy wat skroot herwin, het Maandagmiddag die swartgebrande, verwronge sinkplate weggery.
"Die munisipaliteit sê die huis se mure is weens die brand vol krake en ons mag nie meer daar woon nie," het Lisbon gesê. Al die ontheemdes bly tydelik by vriende en familie tot hulle kan terugkeer huis toe. Maar dit kan tot ses maande duur, as hulle gelukkig is. Marileen Johnson, wat in 'n houtstruktuur op die bokant van die perseel woon, was dankbaar dat haar kamer behoue gebly het. Edwin Skietekat, wat aan die anderkant van die hoofhuis woon, was ook baie bly dat diegene wat tot hul redding gekom het, die teenwoordigheid van gees gehad het om die uiters brandbare strukture sopnat te spuit sodat die vlamme nie lekplek daaraan kon kry nie. "Ek het die vlamme langs die dak gesien - die struktuur het soos papier gebrand."
Kyk 'n video hieronder:
Twee kleuters speel tussen die oorblyfsels van die wonings.
Verwronge sinkplate en uitgebrande hout is al wat oorgebly het van twee sinkstrukture wat vir twee gesinne in Môrestond ’n tuiste was. Foto’s: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'