HEIDELBERG NUUS - Dié dorp het weereens sy jaarlikse dramafees, die Goliath Davids/Hessequa-toneelfees op Saterdagaand, 8 Oktober, ná 'n baie suksesvolle week, op 'n hoë noot afgesluit.
Die fees het in 2016 onder leiding van oom Gollie, soos hy alombekend was, se seuns, Lloyd en Peter-John Davids, afgeskop.
Dié galaverrigtinge in die Duivenhoks-gemeenskapsaal is deur nagenoeg 120 drama- en kunsliefhebbers bygewoon.
Twee van oom Golly se seuns, Lloyd en Jefferson, asook hul susters, Lynn Meyers, Gillian Malgarte en Prudence Julies, was verteenwoordig. Peter-John kon nie die week se verrigtinge bywoon nie, maar hy is deur sy vrou, Karen, en hul dogter, Zarah, verteenwoordig.
Laasgenoemde het ook as programaanbieder saam met William Michaels, 'n akteur en regisseur van formaat, opgetree.
Die groep akteurs van Panorama Primêr en Gerrit du Plessis Senior Sekondêr in Riversdal poseer trots saam met familielede van wyle Goliath Davids en eerw. Chassley Fredericks na die openingsaand. Foto's: Clive Pretorius
Michaels het tydens die verwelkoming dit duidelik gemaak dat hy een van oom Golly se plaaslike produkte is.
Jennifer Hartnick, oudopvoeder en voormalige LPP en Hessequa-raadslid, het as geleentheidspreker opgetree.
Al die deelnemers het sertifikate en trofeë vir hul prestasies ontvang. Die bekende Braaf-akteurspaar, Peter en Sandy, en Wim Vorster, 'n plaaslike akteur en regisseur, het as beoordelaars tydens die fees opgetree.
Hartnick het die voornemende verhoogsterre aangemoedig om nie tevrede te wees met hul huidige omstandighede nie, maar om elke geleentheid met albei hande aan te gryp om hul omstandighede te verbeter.
"Julle het nou soveel meer geleenthede in die era waarin ons leef as wat ons in ons tyd gehad het," het sy gesê.
Evert Witbooi van Gerrit du Plessis Senior Sekondêr het ook goud vir sy produksie, 'Os is oek Important' ontvang. Sandy Braaf staan by.
Sy het ook die Davids-familie geloof en vir die platform bedank wat hulle vir die jong talente skep om ontgin te word. "Dankie vir dit wat julle terugeploeg het om jul pa en oupa se nalatenskap te laat voortleef."
Braaf het in sy toespraak al die deelnemers geloof vir hul uitsonderlike bydrae tot die kunste. Hy het met groot lof gepraat van die hoë standaard wat hulle tydens die week opgelewer het.
Peter en Sandy Braaf, welbekende akteurs en regisseurs, het saam met Cynthia Roberts (regs), 'n familielid van wyle Golly Davids as beoordelaars opgetree.
Volgens Braaf was daar die jaar 'n groot verbetering in die aanbieding van die verskeie produksies, maar hy het ook benadruk dat om die hoogste vlak te bereik, akteurs hard moet werk aan hul dissipline en selfrespek. Verder het hy ook genoem dat die goeie kwaliteit van produksies die beoordelaars met moeilike besluite gelaat het om die wenners in die verskeie kategorieë aan te wys.
Volgens Lloyd was daar vanjaar 14 groepe, ongeveer 100 deelnemers, wat deelgeneem het nadat daar aanvanklik verwag is dat daar net 26 inskrywings sou wees.
Al drie beoordelaars was baie beïndruk met die standaard van die produksies en die talente van die akteurs. Tien van die produksies het goud verwerf, vier silwer en twee brons. Volgens Braaf en Davids is dit 'n groot verbetering op verlede jaar se vertonings.
David Willemse, onderwyser van Roodewal Primêr, het goud verwerf vir hul produksie, 'Okapyp.' Sandy Braaf, beoordelaar staan by hom.
Twee akteurs tydens die opvoering van die toneelstuk 'Women of Worth.'
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'